7 broodresepte met ’n verskil

Elke brood is beslis nie dieselfde nie. Betower jou gesin met hierdie broodjies wat die monde laat water.

Suurlemoenteebroodjie

Genoeg vir 1 broodjie
Tyd: 1 uur 20 minute + afkoeltyd


suurlemoentee_brood.jpgBESTANDDELE
375 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
knypie sout
250 ml ongegeurde jogurt
250 ml suiker
3 ekstragroot eiers, liggies geklits
skil van 2 suurlemoene
3 ml vanieljegeursel
125 ml sonneblomolie

Vir die suurlemoenstroop
80 ml suurlemoensap
80 ml water
80 ml suiker

Vir die suurlemoenbolaag
250 ml versiersuiker
15-30 ml suurlemoensap

METODE
1 Stel die oond op 180 °C.
2 Voer ’n 23 cm-broodpan met bakpapier uit. Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
3 Klits die jogurt, suiker, eiers, suurlemoenskil en vanieljegeursel saam. Vou die jogurtmengsel by die meelmengsel in en voeg die sonneblomolie by. Meng goed. Giet in die voorbereide pan en bak 50-60 minute tot ’n toetspen skoon uitkom.
4 <b>Vir die suurlemoenstroop:</b> Plaas al die bestanddele in ’n klein kastrolletjie en verhit stadig tot die suiker opgelos het. Hou eenkant.
5 Laat die brood ongeveer 10 minute lank in die pan afkoel voordat dit op ’n afkoelrak uitgekeer word. Giet die suurlemoenstroop oor die warm brood en laat staan tot dit heeltemal afgekoel het.
6 <b>Vir die suurlemoenbolaag:</b> Plaas die versiersuiker in ’n bak en voeg die suurlemoensap geleidelik by tot dit so dik soos heuning is. (Jy hoef nie al die suurlemoensap by te voeg nie.)
7 Skep die bolaag oor die brood en sit voor.

Piesangbrood

Genoeg vir 1 broodjie
Tyd: 50 minute


piesang_brood.jpgBESTANDDELE
125 g botter
250 ml suiker
4 ryp piesangs, fyngemaak
2 groot eiers
300 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
knypie sout
5 ml koeksoda
30 ml water

METODE
1 Stel die oond op 180 °C. Room die botter en suiker tot lig en donsig. Klits die fyngemaakte piesangs by en meng goed.
2 Klits die eiers een vir een by. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout oor en meng goed.
3 Los die koeksoda in die water op en voeg by die mengsel. Giet in ’n gesmeerde broodpan en bak vir 40 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.

Gesonde saadbrood

Genoeg vir 1 broodjie
Tyd: 1 uur 20 minute


gesonde_saad_brood.jpgBESTANDDELE
500 ml karringmelk
310 ml melk
30 ml sonneblomolie
10 ml koeksoda
1000 ml Nutty Wheat
250 ml hawermout
250 ml semels
15 ml suiker
knypie sout
310 ml gemengde sade (sonneblom, pampoen, sesam en papawer)

METODE
1 Stel die oond op 180 °C. Smeer ’n 35 cm x 12 cm broodpan.
2 Meng die karringmelk, melk, olie en koeksoda saam en hou 5 minute eenkant.
3 Meng die Nutty Wheat, hawermout, semels, suiker, sout en helfte van die sade saam in ’n bak en maak ’n holte in die middel. Giet die karringmelkmengsel in die holte en meng goed. Skep die beslag in die pan en maak die oppervlakte glad.
4 Strooi die res van die sade bo-oor en bak vir 1 uur of tot ’n toetspen skoon uitkom.
5 Keer uit op ’n afkoelrak en laat heeltemal afkoel voordat dit opgesny word.

Geurige mieliebrood

Genoeg vir ’n 24 cm-broodjie
Tyd: 1 uur


mielie_brood.jpgBESTANDDELE
500 g bruismeel
5 ml sout
15 ml suiker
hand vol grasuie, gekap
410 g blik geroomde mielies
500 ml cheddarkaas, gerasper
2 ekstragroot eiers, geklits
60 ml melk
30 ml gesmelte botter

METODE
1 Stel die oond op 190 °C. Smeer ’n koekpan met ’n 24 cm-deursnee.
2 Meng die meel, sout, suiker en grasuie saam in ’n groot mengbak. Maak ’n holte in die middel en voeg die mielies, helfte van die kaas, eiers, melk en botter by. Roer tot net gemeng. Moenie te veel meng nie. Giet die beslag in die pan en maak die oppervlakte glad.
3 Sprinkel die res van die kaas bo-oor en bak ongeveer 45 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
4 Laat dit effens in die pan afkoel voor dit uitgekeer en gesny word.

Melk-en-heuningbrood

Genoeg vir ’n 23 cm-brood
Tyd: 65 minute + rystyd


melk_heuning_brood.jpgBESTANDDELE
600 g broodmeel
5 ml sout
10 g (1 sakkie) aktiewe droë gis
310 ml louwarm melk + ekstra
45 ml heuning
30 ml gesmelte botter
sonneblomolie om mee te smeer

METODE
1 Meng die meel, sout en gis saam in ’n groot mengbak. Maak ’n holte in die middel en voeg die melk, heuning en botter by en meng deeglik.
2 Keer die deeg op ’n meelbesmeerde oppervlak uit en knie tot glad en elasties, ongeveer 8 minute. Plaas in ’n gesmeerde bak, draai een maal om en smeer die bokant. Bedek en plaas eenkant op ’n warm plek. Laat rys tot die volume verdubbel het, ongeveer 1 uur.
3 Knie die deeg af en vorm in ’n brood. Plaas in ’n gesmeerde broodpan van 23 cm x 13 cm. Bedek met ’n klam doek en laat toe om weer te rys tot die volume verdubbel het, ongeveer 30 minute.
4 Bestryk die deeg met die res van die melk en bak 30-35 minute in ’n voorverhitte oond teen 180 °C of tot goudbruin en deurgaar.
5 Keer uit op ’n afkoelrak en laat afkoel voor dit gesny word.
6 Die brood kan met botter en tuisgemaakte konfyt of marmelade voorgesit word.

Paasbolletjiebrood

Genoeg vir 1 brood
Tyd: 40 minute + rystyd


paasbolletjie_brood.jpgBESTANDDELE
Deeg
15 ml droë gis
1,25 ml fyn naeltjies
1,25 ml fyn neut
5 ml sout
50 g koppie suiker
5 ml fyn kaneel
skil van 1 suurlemoen
420 g broodmeel
100 g korente
125 ml melk
125 ml water
40 g botter by kamertemperatuur
1 eier, liggies geklits

Glaseersel
1 eiergeel
15 ml melk

Versiering
30 g versiersuiker
2,5 ml vanielje-ekstrak
30 45 ml water

METODE
1 Meng die droë bestanddele, behalwe die korente, in ’n groot bak.
2 Voeg die melk, water en botter by, en klop met ’n elektriese menger vir 2 minute teen matige spoed.
3 Voeg die eier en die korente by die deeg en meng goed. Knie die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties. Gebruik ekstra meel indien nodig.
4 Plaas die deeg in ’n liggies met olie gesmeerde bak en keer dit om om die ander kant ook te smeer. Bedek met kleefplastiek en hou eenkant om te rys.
5 Plaas die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak en druk dit plat met die hand om lugborrels te verwyder. Plaas in ’n gesmeerde broodpan, bedek en laat weer rys, ongeveer 30 minute.
6 Meng die eiergeel en 15 ml melk, bestryk die bokant van die brood daarmee en bak in ’n voorverhitte oond by 180 °C tot goudbruin, ongeveer 25-30 minute. Haal uit oond en laat afkoel.
7 Versiering: Meng al die bestanddele en spuit in ’n kruis of kruis en dwars oor die brood.

Brooddeeg

Brooddeeg is by die meeste supermarkte te koop. Vra daarvoor by die bakkery-afdeling.

Broodsopbakkies
Keer ’n muffinpan om en smeer die buitekant van die holtes. Rol die brooddeeg uit tot ’n dikte van nie meer as 5 mm nie. Sny sirkels uit wat groot genoeg is om die bokant en sykante van die holtes te bedek. Plaas die deeg bo-op en buite om die holtes en prik met ’n tandestokkie. Bestryk met melk. Bak by 180 °C vir 25 minute of tot goudbruin. Verwyder die doppies versigtig en bak regop vir 10 minute sodat die binnekante kan hard word. Sit die sop in die broodbakkies voor.

Pizza-aand
Rol die brooddeeg dun uit, smeer met tamatiepasta en besprinkel met gerasperde cheddarkaas. Voeg ’n bolaag van jou keuse by en bak by 220 °C tot die kors goudbruin word.

Gevulde broodrolletjies
Gebruik brooddeeg en maak rolletjies die grootte van ’n gholfbal plat met jou hande. Maak ’n holte in die middel en voeg biltong, kruie, gerasperde kaas en Peppadew® Sweet Piquanté Peppers by. Knyp die deeg oor die vulsel toe. Bestryk met melk en bak by 200 °C vir 15-20 minute tot goudbruin en gaar.

Soet suikerbrood
Rol tennisbalgrootte balletjies uit 500 g brooddeeg en druk stewig vas in ’n diep oondvaste bak, 20 cm groot. Laat op ’n warm plek staan om te rys, ongeveer 20 minute of tot amper dubbel die grootte. Meng 250 ml Nestlé Ideal Milk and 250 ml sagte bruinsuiker saam. Prik gaatjies in die deeg en giet helfte van die melkmengsel oor die deeg. Sprinkel nog sagte bruinsuiker bo-oor. Bak ongeveer 45 minute tot ’n toetspen skoon uitkom en die broodkorsie bros is. Haal uit die oond en giet die res van die melkmengsel bo-oor.

Kruievetkoek
Knie gekapte vars kruie (soos tiemie, roosmaryn en pietersielie) by brooddeeg. Laat op ’n warm plek staan vir 20 minute tot die volume verdubbel het. Vorm ’n lang rol en sny in stukke. Diepbraai in warm olie tot goudbruin. Sit voor met botter, kaas en maalvleis.

Sjokoladebroodjies
Rol brooddeeg uit in die vorm van worsbroodjierolletjies. Maak ’n keep in die kante en steek ’n paar stukkies donkersjokolade binne-in. Knyp die openinge toe. Laat staan 20 minute op ’n warm plek om te rys tot die volume verdubbel het. Bestryk met melk en bak by 200 °C vir 15-20 minute tot goudbruin.

Sout broodkinkels
Rol 2 stukke brooddeeg in reghoeke van 15 cm x 20 cm, ongeveer 7 mm dik. Smeer een van die reghoeke met basiliepesto of rooirissiepesto of Marmite en gerasperde cheddarkaas en plaas die ander stuk bo-op. Sny in 1 cm breë strokies en gee elk ’n paar draaie. Druk die punte vas. Bestryk met melk. Bak teen 200 °C vir ongeveer 20-30 minute of tot goudbruin en gaar. Laat op draadrakke afkoel.

Basiese plaasbrood
Vul ’n gesmeerde broodpan ongeveer driekwart vol met ’n bal brooddeeg. Bestryk met melk. Sprinkel gemengde sade of gerasperde cheddarkaas oor. Laat 20 minute op ’n warm plek staan om te rys. Bak by 180 °C vir ongeveer 45 minute tot goudbruin en deurgaar. Laat op ’n draadrak afkoel. Sit voor met sagte botter en konfyt.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Website Security Test