Andriëtte Norman: "Ek het my roeping gevind"

Andriëtte Norman

Sangeres Andriëtte Norman het ná die geboorte van hulle seuntjie, Graham, ’n lied in die hart wat haar vir altyd anders en dieper sal laat sing.

“Jy het al weer nie hier geslaap nie.” Tong in die kies verduidelik ek dat ek gemeen het hy wat Glynn is verdien vir ’n slag ’n behoorlike nagrus, maar ons al twee weet my gunstelingtydjies saam met klein Graham is in die nag as hy ’n bietjie onrustig is. My hemel op aarde is wanneer daardie klein lyfie, asof dit in die oertye so bevestig is, perfek in die troosplek van my arm pas en ek sy magie vryf en vir hom fluister.

Graham beteken “vegter”. Hy gaan ’n mannetjie wees wat deurdruk. Iemand wat nie sommer sal moed opgee nie. ’n Veggees. Soos sy pa. Glynn het vas geglo dit is ’n dogtertjie en dan sou sy my ma se naam gekry het, Anita. Maar as dit ’n seun is, soos wat ek sommer geweet het dit is, noem ons hom Graham. Soos Glynn se pa. En toe my broer kom vertel hy het gedroom die kind lyk presies nés hy en doen al die dinge wat hý doen, besluit ons om sy tweede naam Harold te maak. Na hom. Want ek en my broer is van kindsbeen af onafskeidbaar.

Die plan was nie om gou met ’n kroos te begin nie. Wat gaan ek met ’n baba maak terwyl my sangloopbaan nou net lekker vlerke gekry het? Ons is egter beide mal oor rakkers en toe die knoop eers deurgehaak is, besluit ons waarom dan nou nie! Dit is in elk geval ’n absolute wonder om kinders van jou eie te kan hê. Op 15 Februarie, toe die wêreld vir die eerste keer Graham Harold se stemmetjie in die gange van Panorama Hospitaal hoor, het ek en Glynn met trane in die oë geweet dit is goed. Die tyd is reg.

Want hy is tienduisend keer mooier as wat ek ooit gedink het hy gaan wees. Tienduisend keer! My beker loop oor. My eerste gedagte toe hulle die bondeltjie nuwe lewe teen my bors gesit het, was lyk hy na my of na Glynn. In een oomblik het ek meteens geweet waarvan my ma gepraat het die kere wat sy ’n ma se liefde vir haar kind probeer verduidelik het. Dat jy dit eers kan verstaan as jy jou eie vashou. Toe my broer later meld hoe lief hy hierdie seuntjie al klaar het terwyl hy maar net sy oom is, kon ek bieg dat dit regtig vir my voel dat sou iemand ’n geweer teen my kop druk, ek dit met ’n glimlag sal vat solank my kind net veilig is.

Kyk, daar is vir seker ook oomblikke van angs. Ons was nog in die hospitaal toe my agent, Alice, sê Graham begin al vir haar smile. Toe nou nie! Toe ons weer sien, is sy ou gesiggie vertrek van die pyn. Dit lyk of hy nie kan asem kry nie en hy raak half blou. Ek het só opgewerk geraak dat ek van ontsteltenis in trane uitgebars het. Die wortel van die kwaad? Winde! Ja, die krampe en winderigheid hou ’n mens maar lekker paraat en op jou tone!

Dit maak nie saak nie, want dan is daar weer oomblikke wat ek vir altyd wil koester. Soos die een aand kort nadat ons met hom by die huis gekom het. Ek het hom geborsvoed. Die oomblik was meteens so heilig dat ek begin huil het. Arme Glynn wou weet wat nou al weer fout was, want swangerskap gaan mos maar met baie emosie gepaard. Was dit weer ’n hormonale bui? Nee. Hierdie keer kon ek vir hom sê ek huil van pure geluk. Uit skone verwondering. Eintlik het ek vir hom gesit en bid; vir die Here dankie gesê dat Hy my soveel meer gegee het as wat ek ooit kon droom of dink. Hierdie perfekte dingetjie in my skoot. Sy toontjies. Perfek. Handjies. Perfek. En hy is myne. Dit is ’n prentjie wat ek vir altyd sal bêre.

Die nuwe asempie in die huis dwing ons vir seker om beter te kommunikeer. Ons het vinnig agtergekom hoe maklik dit gebeur dat mense by mekaar verby begin leef. Soms moet Glynn al vieruur soggens opstaan om te gaan werk, en waar ek altyd dan vir hom kos ingepak en ons sou gesels het terwyl hy pap eet, moet ek deesdae daardie tyd borsvoed. Ander kere weer het hy administrasie om saans te voltooi en dan mis ons mekaar weer. So, ons het begin om sommer bo in die babakamer saam ontbyt te eet. Dit het ’n kuierkamer vir ons geword. Hy eet en ek borsvoed en ons gesels. Ons probeer ons tye saam so inpas.

Ten spyte van die kommunikasie neem ek elke keer wanneer ek Glynn met Graham sien, foto’s met my hart. Verewig ek dit hier diep agter my ribbes om tot oudag toe te onthou. Dit is asof my liefde vir my man nog dieper raak omdat ons iets so asemrowends deel. En hy is so goed met die kleintjie! Ek raak sommer van voor af verlief op hom. Glynn het sy ander seuntjie destyds van die ouderdom van ses weke af op sy eie grootgemaak. Gevolglik is hy so gekonfyt met klein lyfies dat hy soms vir mý ore aansit. Dan sê ek vir hom: “Oukei, vat hom. Wys vir my wat ek moet doen.” Twee minute later is Graham rustig.

So saam met die baba-dril kan die huissake ook maar lekker deurmekaar raak! Die een Sondagmiddag vra Glynn wat ons gaan eet. Teen daardie tyd het ek nog nie eers kans gehad om aan myself aandag te gee nie, wat nog van dink aan kos! Geen probleem nie, hy maak toe sommer vir ons eier op roosterbrood. Ons ander seuntjie het dit een kyk gegee en gevra of dit is wat ons van nou af in hierdie huis gaan eet. Eier op toast! Hy is nou sewe jaar oud en vas oortuig dat Graham volgende week gaan begin praat!

Weet jy, skielik gee ons glad nie meer om om naweke met Jan Tuisbly se karretjie te ry nie. Voorheen was ons gek oor uiteet en rondrits. My pa het altyd geskerts en gesê ons is regte gatskuurders. Nou is ons tevrede net hier by die huis. Nou verstaan ek meteens wat ’n gesin is. Dit is ek en Glynn wat rustig in en om die huis doenig is met klein Graham in sy wiegie hier naby en sy ouer boetie besig met sy seunsdinge. Ons lewe hier is vol.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test