Anneke Heckroodt: “So moet ’n vrou onderhandel”

Anneke Heckroodt

Wanneer jy moet onderhandel in besigheid, is fokus van kardinale belang. Vir veral vroue is dit soms moeilik omdat ons so geneig is om te multi task.

Ek het al 10 jaar ’n Kaapse Verbruikerskaart en het nog altyd gedink dit is die bes bewaarde geheim ooit! Toe ’n vriend van my as die besturende direkteur van Cape Consumers aangestel word, het ek hom gebel en gesê ek gaan sy nuwe bemarkingshoof word. Ses maande later het ek daar begin. Die kaart koop vir jou afslag op aankope, wat dan as ’n bonus aan ons lede uitbetaal word. Ons gebruik die gekombineerde mag van ons lede om vir afslag by winkels te onderhandel.

In enige onderhandeling probeer ek altyd seker maak dat dit ’n wen-wen-situasie is. As ek weet wat vir almal op die spel is, pas ek my strategie daarvolgens aan. Ek werk altyd vanuit ’n posisie van integriteit. Soms verloor jy die argument, maar jy wen altyd respek.

Hoewel ek probeer om ander die geleentheid te gee om hulle insette te lewer waar dit saak maak, is dit nie altyd moontlik nie. Soms moet ek selfgeldend optree en doen wat in die beste belang van die maatskappy is. Dis my verantwoordelikheid. Dan word die eindresultaat belangriker as verskillende opinies.

Ek dink nie dis nodig om te veel klem te lê op vrede in onderhandelings nie. Gesonde verskille is normaal en dikwels die teelaarde vir baie goeie nuwe insig en uitkomste. Ek laat doelbewus soms toe dat die spanning opbou, maar tree altyd in as dit oneerbiedig begin raak.

Dooiepunte ontstaan dikwels omdat mense nie wil toegee nie, en eerder passief-aggresief op ’n spesifieke punt vasskop. Ek het onlangs ’n kliënt gehad waar die aandeelhouers in teenoorgestelde rigtings wou beweeg om hulle mark uit te brei. Deur ’n scenario te skets wat vir albei onaanvaarbaar was, het ek dit reggekry dat hulle saamstaan “teen” die alternatief. Dié taktiek werk elke keer!

Vroue is uitstekend daarmee om ander partye se punte in te sien. Ongelukkig ontspoor hulle soms transaksies omdat hulle nie gefokus genoeg is nie. Vir my was dit byvoorbeeld moeilik om te fokus die kere wat my kinders baie siek was met masels. Ek moes die uiterste wilskrag gebruik om op die onderhandelingsituasie te konsentreer terwyl ek eintlik net by hulle wou wees.

Ek is ’n groot-prentjie-persoon en dit is ’n deurslaggewende vaardigheid op uitvoerende vlak. Natuurlik moet jy die detail goed verstaan, maar nie soveel dat jy daarin verstrengel raak nie. Die grootste voordeel van hierdie tipe insig is die vermoë om mense in my netwerk met mekaar te verbind. Dit kan tot nog meer suksesvolle ooreenkomste in die toekoms lei.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test