Dapperheid

by Blogger - Annabelle Lombard / Jan 06, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 2597 mense.

Voor ons wegtrek op ons 7.5 km strandstap, vra my man ons 5 jarige of hy dapper en fluks is.  Sonder aarseling antwoord hy “Ja pappa!” – en toe na ‘n lang stilte “pappa, wat is dapper?” Die maer beentjies het toe wel flink Deurspring toe en terug gestap op die heerlike Strandfontein langstrand en ons is verbaas en trots.  Wat is daai spreekwoord van met dapper en stapper?

Ek was nog nooit besonder dapper nie.  As ek die indruk geskep het, was dit ‘n kwessie van ‘fake it till you make it’.  Die kere wat ek wel manhaftig of vreesloos opgetree  het, was dit  “fools rush in where angels fear to tread.”  Meeste kere was dit ‘n instinktiewe onverskrokkenheid deur ‘n krag groter as myself. Daardie sinne wat van kleins af in jou hart graveer is:  “ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom...”  En “wees sterk, wees dapper...”

Die hele vakansie is my gedagtes (saam met duisende ander) by die Brink gesin na hulle ernstige motorongeluk op pad na familie vir Kersfees.  Terwyl ek my kinders se lysies skoolgoed regkry moet Mamma Lise na byna ‘n maand, begin wakker word in die hospitaal, met ‘n lys van al haar verliese.  Sy het haar hele vakansie – Kersfees en Nuwe jaar – gemis, haar been is geamputeer, haar galblaaas is verwyder, twee van haar kinders is oorlede en hulle hele lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.  Pa Danie is alleen in die storm en deel daagliks nuus op die omgee groep op Facebook.  Daar lê nog baie operasies voor en ‘n begrafnis.  Ek kan my die wanorde en trauma nie voorstel nie.  Tog vertel ander hoe dapper en sterk hy is.  Hyself getuig hoe almal se onderskraging en gebede hom dra. Ek bid saam dat Lise en Danie daagliks Goddelike krag en genesing sal ontvang om hier deur te kom.

Jy staan  waarskynlik soos ek aan die begin van jou jaar ook voor ‘n klomp uitdagings.  Jy het geen idee of jy genoeg geesteskrag het om alles te hanteer wat op jou pad gaan kom nie.  Miskien twyfel jy oor jou eie durf en deug. Ek dink dapper is nie altyd iets wat jy beplan om te wees nie, dis soms net iets wat met jou gebeur en oombliklik weet jy dis nou die tyd om moedig en heldhaftig te wees. Ek dink dapperheid is oё toeknyp, diep asemhaal en een dag op ‘n slag vat.  Ek dink dapperheid is ‘n ingesteldheid, ‘n keuse en reuse geskenk van God.  Mag jou eie dapperheid jou verras in alles wat jy gaan hanteer en aandurf in 2017!

 

 

  • Blogger - Annabelle Lombard

    Ek is 'n ma, eggenoot en liefhebber van mooi goed. My wortels lê in die weskus dorpie Lutzville. Daarna het ek my Bedryfskommunikasiegraad aan die PUK verwerf en met die beste man in die wêreld getrou. Ek het twee seuns en werk deeltyds vir 'n kerk in Pretoria. Ek is 'n borskanker oorlewende, koorsinger, tuinier, toeris en ewige student van die lewe.  Vandaar die naam van my blog: Bella la Vita (die mooi lewe) annabellelombard.wordpress.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA