“Date night”

by Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen / Feb 17, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 709 mense.

Soos wat die jaar momentum kry raak ons besig. Dit is afsprake, skool aktiwiteite, rekeninge, inkopies en nog vele meer.

Dit is asof die jaar ons oorval het en ons sukkel om op te kom vir asem. Goed gebeur net en hierdie week was geen uitsondering op die reël nie. Voordat ons, ons oë kon uitvee is ons dagboeke vol. Ons word meegesleur in die “rat race”. Ongelukkig is dit net die rotte wat wen!

Ons besef dat as ons nie tyd uitkoop vir mekaar nie, sal iemand anders eenvoudig daardie tyd gebruik. Dit is asof krisisse altyd voorkeur kry bo kwaliteit tyd. Ek moes prioritiseer. So besluit ons op ʼn “date night”. Vroulief se oë helder sommer op en dit is asof jy die opwinding in die atmosfeer kan beleef. Sy is al weke opgewonde oor hierdie nuwe klein Italiaanse plekkie. ʼn Kaasbordjie met verskillende brode is een van die bestanddele vir ʼn lekker kuier. Goeie musiek in die agtergrond en sagte beligting help om diep in mekaar se oë te kyk en hartsake te deel.

Soos die aand ontvou praat ons oor drome vir die toekoms. Hoe dieper ek in haar oë kyk, hoe meer verlief raak ek. Na sestien jaar se getroude lewe besef ek opnuut dat oomblikke soos die gee lewe aan jou huwelik. Ek word so herinner aan Paulus se woorde in Efesiërs 5: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd.” Hierdie is nie net van toepassing op ons verhouding met God nie, maar elke ander faset van die lewe. Almal wil ʼn stukkie van jou hê. Net jy kan kies waar jy jou tyd gaan spandeer. Ek daag jou uit: wees ʼn man en kies reg.

  • Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen

    Marthinus en Bianca Steffen is vir die laaste sestien jaar getroud en steeds opgewonde daaroor. Hulle sal onomwonde erken dat hul nie perfek is nie, maar dat hul beter saam is, as apart. Hulle hou van laat-aand geselsies, koffie, lees, draf, saam reis en nuwe plekkies ontdek.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.