Die lewe is ‘n lied –klink ‘n glasie!

by Blogger - Dorita Janse van Rensburg / Dec 06, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 1407 mense.

As die lewe werklik ‘n lied is, hoekom sing die samelewing so vals? Ons is vir sommiges te veel, te hard, te sag, te dit en te dat. Maar ek glo jy’s altyd perfek vir die mense wat jou nodig het.  Ook in ons huwelik moet ons  dikwels  vir die ander een GEE al voel dit onverdiend.

Dis mos die klein jakkalsies wat verhoudings  vernietig daarom het ek hier in die bos ‘n wilsbesluit gemaak. Ek gaan my nie bekommer nie…. dit betaal nie uitstaande rekeninge nie, dit droog nie trane af nie, dit hou nooit ‘n gesin bymekaar nie en sit ook nie kos op jou tafel nie. Dit steel net jou vreugde! My wyse man sê altyd “ Maagsere ontstaan nie van wat jy eet nie, maar van dit wat aan jou eet”

 Daarom gaan ons alles rondom ons mooi en lekker maak en dit dan ons  LEWE noem.  Ons gaan spit in die nat tuingrond en nooit verby ‘n nuwe blom loop sonder om daaraan te ruik nie. Ons gaan harder lag vir ons eie grappies en meer omgee vir hulle wat niks terug kan gee nie.  Op ons ouderdom kan ons nie meer so vinnig hardloop nie, en dit is goed, want dit dwing ons om stil te staan by die mooi dinge.

Ons foto’s teen die ou mure vertel ons liefdesverhaal…. elke Moederhart dink haar kraaie is papegaaie. Ons sit op die stoep en herinner mekaar aan al die braaivleisvure en gaste  wat ons hier besoek het deur die jaar. Saam hang ons die kersversierings op in die wildevyeboom. Ons verlang ver en ons droom groot. Ons klink ‘n glasie (selfs ‘n koffiebeker) op alles wat mooi en lekker is.

Die lewe is ‘n avontuur, waag dit. Die lewe is geluk, skep dit. Die lewe is die lewe, veg daarvoor. Die lewe is ‘n lied….. sing dit uit volle bors!

 

  • Blogger - Dorita Janse van Rensburg

    Dorita Janse van Rensburg is vrou, dogter, ma, ouma en vriendin van vele. Sy woon op ’n plaas in die verre noorde van Limpopo. Sy sê: “Ek hunker elke dag na almal wat ver is, en moes noodgedwonge ander maniere aanleer om deel te bly van almal vir wie ek omgee. My liefde vir Die Woord en woorde hou my staande. Na drie jaar pas ek steeds aan en groei daagliks. Die plaaslewe bied egter ander bekorings en uitdagings.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA