Eer in plaas van smart

by Blogger - Alta Strauss / Mei 16, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 893 mense.

Soms gaan ons deur die lewe, en in plaas daarvan om die lewe deur God vir ons bestem in oorvloed te lééf, bestaan ons bloot maar net.

Ek onthou hoe ek die een oggend opgestaan het en soos ek na my refleksie in die spieël gekyk het, het die Here hierdie woorde tot my hart gespreek, “Ek het jou geskep met ‘n plan en ‘n doel groter as wat jy ooit van kan droom, beter as wat jy ooit kan dink, maar die vrou wat in daardie spieël terugstaar na jou moet haar gebrokenheid bring na My sodat ek haar in ere kan herstel.”

Wanneer ek terugkyk op my lewe kan ek getuig, waarlik die genade van die Here is genoeg. Hoeveel maal het ek gevoel, ek kan nie meer nie, maar elke keer wanneer ek daardie seer na Hom gebring het, het Hy aan my Sy vreugde en Sy vrede gegee.

Ek wil jou uitdaag, kyk terug op jou eie lewe en sien hoeveel maal het jy hierdie “God-oomblike” gehad, waar die Here ingetree het vir jou en jou nuwe krag gegee het, aan jou vlerke gegee het soos die van ‘n arend om hoog bo jou omstandighede uit te styg.

Hoop gee diepte aan geloof, hoop word gebore uit moeilike tye, tye van opstaan en weer probeer. Hoop is daardie vaste oortuiging en onwrikbare sekerheid in die Here wat nie beskaam nie. Ons storie van hoop, is ons getuienis van bemoediging aan ander om hul in hul geloofswandel te versterk.

Ons is as die beeld van God geskape, om deur die vurige werking van die Heilige Gees in en deur ons, die blye boodskap van hoop te bring aan ander in nood, aan die wat vasgevang is in hopelose omstandighede, vrylating aan te kondig en die pragtige belofte van Christus, vanuit ons persoonlike ervaring van Sy goedheid, genade en guns met hulle te deel.

Jesus het gekom om aan elkeen wat hul gebrokenheid na Hom toe bring, “..eer te gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om Sy roem te veermeerder.” –Jesaja 61:3 AFR83

  • Blogger - Alta Strauss

    Alta Strauss is ’n voltydse evangelis, skrywer, spreker, HFB en medestigter, tesame met haar man, Ev. Hein Strauss, van Word For The World Ministries (NWO). Alta en haar man, Hein, is al 11 jaar gelukkig getroud en geseën met 'n pragtige dogter, Esteè. Sy spits haarself toe op die vurige verkondiging van die evangelie en om ander gelowiges, op 'n openhartige wyse, toe te rus en te besiel tot 'n lewe van onwrikbare geloof in Jesus Christus.
    Ontwerpe vir Blogs: design@marcellevann.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.