Ek “ruik nie lekker nie”..!

by Blogger - Marida Steurer / Dec 27, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 1948 mense.

Ek het nog nooit 'n skerp reuk sintuig gehad nie. Ek glo dat ek eendag in die hemel eers die volle omvang van die reuksintuig sal ken. Intussen plaas dit my hier op aarde egter soms in situasies wat ek eerder sou wou vermy.

Soos daardie keer wat ek by my kantoor ingestap en duidelik iets ongewens geruik het.  Ek het summier ernstig bekommerd geraak oor hoe lank ander mense reeds die klankie kry en niemand iets sê nie.

Ek vra twee Engelse kollegas wat verby stap om te help:

“Do you mind coming into my office to smell if you can smell something wrong.  I usually don’t smell good.”   Nee, dis nie wat ek wou sê nie!

“I mean, I usually smell bad”.  

Die een kollega beduie dat ek eerder moet stilbly.  (Dit is helaas nie net my reuksintuig wat my soms in ʼn verleentheid plaas nie!)

So maak ek die afgelope week weer ʼn fout toe ek die verkeerde dokument saam met ʼn e-pos uitstuur.  Ek voel simpel, verleë en sommer vies vir myself. Met aandete vertel ek dit aan tafel.  Ek het verwag dat elkeen maar net verder gaan gesels, maar my 11 jarige verras my.  Sy stop alles en kyk my mooi in die oë toe sy antwoord: “Ek dink Mamma moet die vrou bel. Vra verskoning en sê net dit is nie hoe Mamma rol nie”.

Ag hoeveel keer het die dice al anders gerol as wat ek wil rol!

Ek lees nou die dag ʼn gedig waarin die digteres noem dat dit goed is om ʼn Emmer-skop-lys (Buckit list) te hê wanneer ʼn mens ouer word.  Haar gedig moedig die leser egter aan om eerder te fokus op ʼn  Kannie-worrie-lys.  (Sy het ʼn rymwoord vir Buckit-list gebruik wat ek nie onder my naam in die openbaar wil herhaal nie, dog ʼn raak beskrywende woord.)

Soms is dit inderdaad so dat ons nie by ons drome kan uitkom nie, omdat ons net te veel hang-ups het wat ons op pad daarheen pootjie.  Ons struikel oor allerhande verskonings en verwyte.  ʼn Enkele fout bly ons soms heeltemal te lank by en laat ons in ons vermoëns twyfel.

Die probleem is onder andere dat ons ons eie donkerste oomblikke met ander se helderste oomblikke vergelyk.  Met klein babatjies het ek my drie uur in die oggend radeloosheid met vriendinne se 10 uur in die oggend sprankel vergelyk.  Natuurlik kantel die skaal dan summier in hulle guns.

Of in plaas daarvan om die leergeleentheid in ʼn fout wat ons maak te sien, gebruik ons dit so gretig as ʼn bewys dat ons iets nie kan doen nie of ʼn goeie rede om nie weer te probeer nie.

Party keer moet ons maar net dinge liasseer in die Kannie-worrie lêer.  Ons weet mos “dis nie hoe ons rol nie”.

Miskien is dit ʼn goeie plan om hierdie jaar bo-aan my nuwejaarsvoorneme lysie te skryf: 

Wees genadig en vriendelik met myself.

  • Blogger - Marida Steurer

    Marida is ma van 3 laerskool juffers en het haar eie konsultasiebesigheid wat sy vir die afgelope 15 jaar van die huis af bedryf.  Dit sorg vir 'n konstante wipplankryery tussen skooltake, buitemuurs en pre-tiener uitdagings teenoor korporatiewe opleidingsplanne, begrotings en sperdatums. Sy is baie lief vir die Here en glo dat Hy relevant is in elke faset van ons lewe. Sy is getroud met Juppi en saam hou hulle van rondreis en bordspeletjies.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA