Eksieperfeksie

by Blogger - Charme Kriel / Mar 13, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 538 mense.

In Gr. 9 doen ek elke jaar met my klasse die gedig Eksieperfeksie wat gaan oor ʼn gesin wat perfek in alles wat hulle doen is.

Hulle lyk perfek, hulle oefen daagliks, hulle eet gesond, hulle presteer en is populêr en gelowig. In die laaste strofe vind mens dat hierdie druk om so perfek te wees die dogtertjie eintlik lei tot ʼn lae selfbeeld en eetversteuring en sien mens dat hulle eintlik glad nie so perfek is nie.

{Ek haat die woord PERFEK! Dit herinner my aan die woord prefek en dit het my nog altyd gepla dat die leiers van ʼn skool perfek moet wees. }

Die wêreld plaas soveel druk op ons om perfek te wees. Die media doen dit daagliks en almal streef na hierdie “perfekte” illusie. Hoe op dees aarde kan een mens in alles perfek wees?

Ons moet die perfekte ma wees. Dit sluit dus in dat jy die perfekte kok, perfekte dissiplineerder, perfekte speelterapeut, perfekte hanswors, perfekte sielkundige, perfekte vermaker, perfekte luisteraar, en, en, en, moet wees.

Dan moet jy natuurlik die perfekte vrou wees. Dit sluit weer in om perfek in die nuutste styl aan te trek, om perfekte hare te hê, om die perfekte huis te hê (skoon natuurlik), om die perfekte balans tussen werk, familie en vriende te handhaaf, om die perfekte lyf te hê, en, en, en.

Iewers hierin moet jy ook natuurlik die perfekte dogter wees vir jou ouers, die perfekte vrou vir jou man, die perfekte vriendin, die perfekte bestuurder, die perfekte kleindogter vir jou ouma en ouma, die perfekte kollega vir jou kollegas, die perfekte troeteldiereienaar vir jou diere, die perfekte kerkganger,  en, en, en .

Ek is nou so moeg net van dink aan al die druk wat daar op ons geplaas word, dat ek voel ek wil liewers nooit perfek wees nie. NIEMAND is tog perfek nie, maar om te laat gaan is nie so maklik nie.

Ek het nou die aand vir die hoeveelste keer my 2 jarige se naels geknip. Toe ek steeds (vanaf haar gebore) nie bloed sien nie, was ek trots. Ek het toe vir myself gelag en gewonder watter belaglike ander standaarde ons nie ook vir onsself stel nie. Vir my voel dit elke keer wat ek nie daardie klein vingertjies wat wriemel en baklei teen die knippery raakknip nie asof ek Kilimanjaro geklim het. Ek bedoel dis nogal pretty perfek in my oë.

So, van vandag af gooi ek vir die soveelste keer die ideale vir perfek-wees by die venster uit. En ek gaan opreg net probeer om my kind aan die lewe te hou en ten minste een keer die week my hare te was. Ek gaan probeer om ʼn maksimum van 2 keer take aways te kry en ek gaan probeer om ten minste een item per dag van die vloer af op te tel. Dan gaan ek probeer om een super-perfekte-ninja-mens ding ʼn week te doen...net een. En dan gaan ek kyk hoe perfek my lewe werklik is. Eksieperfeksie.

  • Blogger - Charme Kriel

    Ek is 'n doodgewone, plat op die aarde, kaalvoetmamma van 'n wonderwerk babatjie wat op 28 weke gebore is. Haar storie het my inspireer om te begin blog en nou kan ek nie ophou nie. Lees meer oor haar by www.lisa28weekliefie.com.
    Ek  is 'n voltydse onderwyser, ma en vrou en 'n deeltydse blogger en fotograaf. Ek bly in Simonstad,  is passievol oor Afrikaans en is mal daaroor om in my hartstaal te kan skryf.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.