Flirt

by Blogger - Antoinette Greeff / Feb 13, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 996 mense.

Ek gaan bieg. 2017 het my getref soos ‘n ‘Dawids-klippie’ van ouds, en my balans heeltemal onder my kom uitslaan.

Werk het begin, skool het begin. Dit was van voor af weer ‘n aanpassing om na drie weke se vakansie nie meer my man en my kuikens pal aan my sy te hê nie – die daaglikse verlange het verdubbel. Eers was ek siek, toe sussie, toe Pappa en toe weer sommer ek. (Dankie tog boetie is ons lot gespaar). Die pas by die werk het ook aansienlik verhoog (hopelik omdat almal gemotiveerd is vir die nuwe jaar) en so ook die verkeer op die R59.

Vrydagmiddag kry ek myself in Woolies, opsoek na die ready-made-meals – te moeg om kos te maak, te hardkoppig om al klaar die stryd teen die ‘gesond-eet-nuwejaarsvoorneme’ te verloor. Oral pronk rooi, pienk en wit sjokolade, kaartjies, blomme en wat nog. Valentynsdag word uitbasuin.

My gedagtes dwaal terug na my en manlief se eerste Valentynsdag saam. Ons was in die ‘hou-van-mekaar’ stadium, maar ek moes pal op my tong byt om nie eerste vir hom te sê dat hou in lief verander het nie.

Ek het my hartsgeheim met my sussie gedeel, en haar raad aan my was om aan te hou flirt – fisies lok in regte tyd. Ek het haar aangegaap! Sy wou hê ek moes wat doen?

Met lag in haar oë het sy verduidelik wat die konsep beteken; wanneer julle saam is, wees TEENWOORDIG. Let op vir lyftaal, reageer as hy praat, hou hande vas, deel drukkies en soentjies uit – dit gee ‘n duidelike boodskap dat jy hulle waardeer. ‘n Eenvoudige, lewensveranderende konsep, wat ons so vining kan vergeet. Die gejaag van die lewe, televisie, selfone, sosiale media – al hierdie dinge maak inbraak op ons vermoë om teenwoordig te wees in verhoudings.

Voor die ready-made-meals-rak in Woolies kry ek lag vir myself. Ek maak ‘n vinnige oproep na Ouma om te hoor of sy sal omgee as ek en manlief so uur of wat later die kinders sal kom optel. Ek stuur ‘n kriptiese whatsapp na my man: “ Valentyns begin nou, kry my by Fandangos”.

In die kar maak ek my hare los en wend lipglans aan. Ek knipoog vir myself in die spieel, ek is reg om my hart uit te flirt!

 

 

  • Blogger - Antoinette Greeff

    Antoinette Greeff is woon in die Vaaldriehoek waar sy voltyds vrou (vir een :)) en ma (vir twee) pragtige woelwaters is. In haar ‘vrye tyd’ is sy 'n menslike hulpbron beampte vir 'n staalmaatskappy. Antoinette glo daarin om elke dag aan te vat soos hy kom, want met twee kleintjies onder 4 het sy nie regtig 'n ander keuse nie. Haar familie is haar passie en sjokolade haar dood.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.