Gautenger op die see rotse...

by Blogger - Janine van Niekerk / Jan 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 970 mense.

Ek deel een plesiertjie met elke liewe see-kuierende Gautenger.  Die rotssitsessie.  Seewind in jou hare, seereuk in jou neus.  Dis die heel eerste ding wat jy doen sodra die tent opgeslaan is, en die heel laaste ding wat jy doen voor jy in die kar moet klim huis toe.  Sonsopkomste, sonsondergange... idillies verby.  En dis net daar waar die Here so heerlik saamkuier, nê?

Daar waar ons Desember was, is nie veel sandstrand nie.  Dis alles rotse en dassies.  So met my na-draffie koffie en joghurt in die hand, het ek elke liewe oggend daar spandeer.  Voor my was 'n buitebank rotse wat die golwe gebreek het voor dit by die strand se rotse aangekom het.  Skouspelagtig het die golwe daar etlike meters hoog die lug in gespat.  Ek kon ure lank daarna staar.  Na hoe genadeloos die golwe daardie rotse peper.  Hoe vas daardie rotse staan maak nie saak hoe aanhoudend en magtig die aanslag nie.  Min gepla.  Onveranderlik.  Soos die Woord.  Dis of Suid Afrika en my lewe voor my in see-taal afspeel!  Die meedoënloosheid van die aanslae.  Ek bedoel 2016 was plein erg... ons goed het bly breek en geld gekos wat ons nie gehad het nie, ons alewige gesondheidsprobleme (totsiens medies), versoekings, ons huisinbraak, ons kinders se skool uitdagings, familiegoed, wat ook al... die jaar se dinge wou net nie ophou nie.

En hierdie van Niekerk familietjie moes eenvoudig desperaat vasgryp aan die Woord van God.  Die Waarheid, soos daardie rotse voor my. Vastigheid.  Onveranderlikheid.  'n Amper uitdagende ligbaken wat eenvoudig nie sin maak in die oë van 'n selfstandige, selfsugtige, onregverdige wêreld nie.

In die Left Behind boeke lees ek van 'n man wat Sy Woord so liefhet, as hy nie dink nie, streel hy so liefderyk oor sy Bybel. Dis Sy asem, Sy werklikheid, Sy hoop.  En op twitter sê iemand ook toe die week, "moenie die Woord meet aan jou werklikheid nie, meet jou werklikheid aan die Woord."

Mag die Woord in 2017 ons obsessie word sodat ons denke uiteindelik vernuwe kan kom, en dit ons woorde en aksies uiteindelik kan heilig.  Dis nie net Sy "regmatige plek" inneem nie, dis soveel meer...

  • Blogger - Janine van Niekerk

    Janine van Niekerk is 'n media evangelis, getroud met Cecil van Niekerk en ma van Paul en die tweeling, Elmien en Leilah. Sy is 'n gospelmusiekkundige, bestuurder van Retief Burger, omroeper by Radiokansel 657AM, betrokke by verskeie eenheidsbewegings en baie aktief in media; wat verskeie radiostasies, TV, skryfwerk en sosiale platforms insluit. Aangename Kennis, Here is deur haar gepen en sy het ook 'n hoogs suksesvolle uitreik CD, die StuurwielStories, anoniem opgeneem, waar die Agies basiese radikale Christenskap ontdek.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.