Gesteelde vreugdes

by Blogger - Dorita Janse van Rensburg / Nov 29, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 1062 mense.

'n Vroegoggend wandeling in Gisborne New Zealand saam met my drie kleinkinders was elke oggend vir my die toegang tot ‘n ander wêreld.

Die lewe daar bring die sorgeloosheid van my kleintyd by my op. Inwoners verwelkom jou in hulle midde wanneer die kleingoed opgewonde vanaf die sypaadjie vir almal uitbasuin “This is our Grandma from Africa”  Jy word voor gewaai, en vriendelike geplooide gesigte wink jou nader.

Almal is doenig in hulle tuine. Nie ʼn papier te siene, huise met groot glasvensters sonder diefwering.  Jy voel  veilig en welkom. My vrae steek in my keel  vas. My “sien” vorm sy eie storie, my “hoor” sy eie vertaling.  

Ek herken baie struike en plante wat welig oor die lae heinings groei. Ek het ‘n groot liefde vir Malvas en kon my lus nie in toom hou nie.  Ek breek ewe onskuldig ‘n steggie met ‘n rooi blom af en asem die bekende reuk diep in toe HP skielik sê “Ouma, my Ma gaan nie hiervan hou nie.”  Hy vat die blom en sit  dit vinnig onder in die stootkarretjie se mandjie , onder Magriet se spoegdoek.

Nader aan die huis hardloop klein Ewald met sy gespierde lyfie ons vooruit en dis nie lank toe Carla buite die deur verskyn nie. “Mamma, jy moet asseblief nie weer iewerster ‘n steggie afbreek nie…. dis teen die wet”  “Maar die blom het in niemandsland oor die sypaadjie gehang” reageer ek verleë en besef ek is in die moeilikheid. “Moet ek dit gaan terug gee?”

Die drie Coetzertjies kraai van die lekkerkry en my dogter sit die takkie in water in die kombuis se vensterbank.  “Ons sal haar later plant en mooi versorg. Sy is nou ons verantwoordelikheid” verduidelik sy en knik vir my.

Amper twee jaar later ontvang ek ‘n foto... dis Mamma se gesteelde steggie wat my steeds vreugde gee. Die knop van verlange in my keel  maak my stom.

  • Blogger - Dorita Janse van Rensburg

    Dorita Janse van Rensburg is vrou, dogter, ma, ouma en vriendin van vele. Sy woon op ’n plaas in die verre noorde van Limpopo. Sy sê: “Ek hunker elke dag na almal wat ver is, en moes noodgedwonge ander maniere aanleer om deel te bly van almal vir wie ek omgee. My liefde vir Die Woord en woorde hou my staande. Na drie jaar pas ek steeds aan en groei daagliks. Die plaaslewe bied egter ander bekorings en uitdagings.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.