Groot paniek! Trane, histerie en verwarring!

by Blogger - Antoinette Greeff / Nov 24, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 1878 mense.

Maar kom ek begin by die begin. Na lank se gesmeek stem my man in om kamp op die proef te stel; ʼn groot stap vir ʼn man wat net huur-huis-see-vakansies gewoond is. Ek is kinderlik opgewonde, want kamp is in my bloed.

Vinning-vinnig word daar met my pa gereël om sy getroue ‘wa’ aan ons af te staan vir ‘n naweek, strategies naby aan die huis sodat hulp op roep is. Ek basuin dit uit: Die Greeffs gaan kamp.

Op ‘n Vrydag word die ‘wa’ gesleep, reggetrek en die tent opgeslaan. Die yskas en kaste is vol en die kampstoele staan roepend onder ‘n koelteboom. Die hele prentjie voorspel ‘n lekker gesellige naweek.

Die kinders geniet die ekspedisie, en baljaar in en om die karavaan, die speel-parkie en die swembaddens. Die eerste aand se slaap verloop ook goed, en die glimlag op my gesig word net breër; dalk sal my man tog byt aan die idee vir ons eie ‘wa’.

Saterdagoggend begin my droom gou-gou ontrafel. Ons word begroet met ‘n koel luggie en donker wolke saamgepak sover as wat die oog kan sien. Die krag is af en die ablusies het nie water nie.

Na wat voel soos ‘n ewigheid, word hierdie probleem uitsorteer. Na die oggendroetine, slaan ons ‘n ‘kamp-breakie’ aanmekaar. Die weer begin ook namate opklaar, en die rafeltjie-draadjie van my droom word geknoop.

Laatmiddag pak die wolke weer swaar saam en ek is benoud vir die wind wat opkom. Ons soek skuiling in die ‘wa’ en die reën val lekker neer. Toe ek ‘n gaatjie sien, gryp ek die kinders en hol na die ablusies, om hulle gou te bad. Die ablusies is vol en ek jag die bad af.

Uitgeput terug by die karavaan, tref die vreemde gevoel my. Iets skort, Met ‘n tikkie histerie besef ek, ek het my trouringe in die ablusies vergeet. Ek haas my soontoe, soek hoog en laag, vra almal, maar dit het soos ‘n groot speld verdwyn.

My hart breek in duisende stukkies.

My man kry ‘n doodskyk toe hy probeer troos met: “Toemaar, ons is mos verseker” , want versekering dek nie die belofte en sentiment geheg aan die ring nie.

Ek mompel dat ons maar moet gaan slaap sodat ons net hierdie nagmerrie kan verbykry.

Die pragtige sonsopkoms van die Sondagoggend lig nie my gemoed nie. Ek begin oppak en huil tussendeur. 

Op pad uit, sê my man ek moet vra by die kantoor, miskien het iemand dit daar ingedien. Ek is nie hoopvol nie, en gaan die kantoor sleepvoet binne. “Het iemand dalk verlore ringe ingedien?” vra ek die dame agter die toonbank. “Ja. Soek jy ringe?” antwoord sy. My hoop vlam op. “Ja, ja ek doen, ek het my ringe gisteraand in die ablusies vergeet”. “Hoe lyk hulle?” vra sy versigtig. Ek rammel die beskrywing af, hoop brandend. Sy glimlag en bring ‘n bruin koevert te voorskyn, en binne-in my trou-ringe.

My gemoed jubel en juig. Ek bars uit in trane en druk die dame amper dood.

“Ek het nie geweet jou ringe beteken so baie vir jou nie, babe” sê my man.

Ek kyk hom verslae aan. “Maar natuurlik babe! Met hierdie ringe het jy vir die wêreld gewys jy het my gekies, vir altyd. Met hierdie ringe het ons God belowe dat ons mekaar sal oppas, ondersteun en onderskraag maak nie saak wat na ons kant toe gegooi word nie.”

Hy plant ‘n soen op my wang. “So wat jy eintlik sê is dat ek met daai ringe my gebind het aan ‘n kamperslewe ook? Want ek het mos belowe in die goed en in die sleg” terg hy.

“Miskien moet ons maar net eers dagbesoekers wees as my ma’lle gaan kamp, dan lyf ons onsself stelselmatig in. Hierdie kamp ekspedisie het my dan amper ‘n hartaanval gegee!”

  • Blogger - Antoinette Greeff

    Antoinette Greeff is woon in die Vaaldriehoek waar sy voltyds vrou (vir een :)) en ma (vir twee) pragtige woelwaters is. In haar ‘vrye tyd’ is sy 'n menslike hulpbron beampte vir 'n staalmaatskappy. Antoinette glo daarin om elke dag aan te vat soos hy kom, want met twee kleintjies onder 4 het sy nie regtig 'n ander keuse nie. Haar familie is haar passie en sjokolade haar dood.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.