Jaloers- bokkie

by Blogger - Dorita Janse van Rensburg / Nov 14, 2016 / 2 Kommentaar / Gelees deur 2314 mense.

Vroeg oggend besef ek in ons huis is 'n mini-betoging aan die gang. Ons is net twee inwoners, maar die atmosfeer is ongemaklik.

Ek voel op en wakker en klets soos altyd maar my wederhelf lyk beswaard. Die koffie proe te soet, die honde blaf te veel en die seeppoeier wat ek al maande gebruik kry die skuld vir sy loopneus.

My dagtakies is afgehandel en ek gryp my breiwerk. Ons nuwe kleinkind se kombersie moet klaar! Dit verskaf my soveel  vreugde om elke kombersie te oorhandig.  Ek hou hom dop soos hy van een televisiekanaal na ʼn ander beweeg en onderlangs brom dat daar niks is om te kyk nie.  “Daai pienk wol waarmee jy nou besig is, is darem baie helder vir ʼn klein babatjie. Vir wie wil jy nog almal kombersies brei?”  “Ek het 'n lysie...” antwoord  ek vinnig, te dankbaar dat die stilte verbreek is.

“Kom ry saam met my, ek wil vir jou iets gaan wys”.  Ek los alles en klim in die bakkie. Nog voor oom Sheppard die hek kan oopmaak stamp die bestuurder hom sommer met die bakkie oop. Skaars ʼn paar meter verder stop hy. Ek sien niks besonders nie. “Neem asseblief ʼn foto van ʼn Mopani boom”. Ek weet dis nie nou die tyd vir onnodige vrae nie.

Terug op die bank wonder ek oor die vreemde opdrag. Hy maak koffie en kom sit langs my. Hy gee so ʼn skaam glimlag. “Ek wil ook asseblief ʼn kombersie hê. Hy moet die kleure in die foto wees.”

 “O so... jy is nog die hele tyd jaloers op almal wat komberse kry?”

 “En jy kan maar bietjie van daai helder pienk ook inwerk”. Ek moet erken, wanneer ʼn man jaloers raak is dit nogal iets oulik om te aanskou. My eie jaloers-bokkie!

  • Blogger - Dorita Janse van Rensburg

    Dorita Janse van Rensburg is vrou, dogter, ma, ouma en vriendin van vele. Sy woon op ’n plaas in die verre noorde van Limpopo. Sy sê: “Ek hunker elke dag na almal wat ver is, en moes noodgedwonge ander maniere aanleer om deel te bly van almal vir wie ek omgee. My liefde vir Die Woord en woorde hou my staande. Na drie jaar pas ek steeds aan en groei daagliks. Die plaaslewe bied egter ander bekorings en uitdagings.”

kommentaar (2)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA