Kasgeraamtes se moses...

by Blogger - Janine van Niekerk / Mei 16, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 894 mense.

Skaamte is 'n kragtige ding. Skuldgevoel.  Vuil voel. Alles dinge wat jou laat wegkruip, al is dit net aan die binnekant. Dis wat mense weghou van God. 

Die wat Hom nie ken nie, omdat sonde hulle verslaaf en verblind en satan hulle met lus vertel dat hulle hul lewens eers moet regruk want God oordeel hulle.

Maar daardie ding is net so 'n realiteit in die lewens van Christene.  Vir ons is dit soms erger, want jy weet jou sondes was weggewas toe jy gered was.  Maar nou het jy weer aangejaag.  Groot aangejaag.  En jy is soooo skaam daaroor.  Dis asof woorde soos "genade" skielik hulle krag in jou lewe verloor het.  Nie omdat God nie genadig kan wees nie, maar omdat jy Hom nie gun om jou genadig te wees nie, want jy verdien dit nie.  Jy weet dit, want jy het geen genade vir jouself nie!  Iewers moet God die een teen jou hou.

En bietjie vir bietjie trek jy terug,

van God.

Want dit alles gebeur mos hier binne omdat jy dit nie met ander Christene kan deel nie.  In teendeel, as hulle moet weet wie jy werklik is, sal hulle jou veroordeel net soos jy jouself veroordeel.  En daar in die donker is waar die skaamte-geraamtes se krag lê.

Maar ek het vir jou 'n skriffie wat jy moet lees, 1 Joh 3:19 - 21

En hieraan weet ons dat ons dat ons uit die waarheid is, en ons sal ons harte voor Hom gerusstel.  Want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart en Hy weet alles.  Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God.

So, hier is die waarheid.  Jesus het BAIE duur betaal om daardie vrymoedigheid te koop.  Hy is baie ernstig daaroor en behalwe dit is Hy nederig.  Hy kyk nie met afkeur af op die geraamtes in ons kas nie.  Hy ken hulle almal en hulle is vir Hom goed wat uit die pad uit moet kom om ons verhouding weer te herstel.  So jy kan met volle vertroue na Hom toe gaan met al daai geraamtes oop en bloot en vra dat Hy jou help asb.  Want Hy sal  jou help.  Op Sy manier, die enigste manier wat jou waarlik vry sal maak.  Hy is aan jou kant en Sy liefde vermag dit.

  • Blogger - Janine van Niekerk

    Janine van Niekerk is 'n media evangelis, getroud met Cecil van Niekerk en ma van Paul en die tweeling, Elmien en Leilah. Sy is 'n gospelmusiekkundige, bestuurder van Retief Burger, omroeper by Radiokansel 657AM, betrokke by verskeie eenheidsbewegings en baie aktief in media; wat verskeie radiostasies, TV, skryfwerk en sosiale platforms insluit. Aangename Kennis, Here is deur haar gepen en sy het ook 'n hoogs suksesvolle uitreik CD, die StuurwielStories, anoniem opgeneem, waar die Agies basiese radikale Christenskap ontdek.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.