Mevrou Doeminie en daardie sondes

by Blogger - René van Zyl / Apr 13, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 272 mense.

Iemand vertel my eenkeer dat enigeen van ons, selfs die vroomste persoon, in staat is om die ergste sonde te pleeg, selfs moord.

En dis net genade wat ons daarvan weerhou. Ek besef dit is so. As mens na die nuus kyk is daar talle stories van gewone gesinsmense wat knak en skielik hul hele gesin uitwis. Of ʼn ongeluk gebeur en jy skiet jou eie kind of ʼn inbreker of ry selfs iemand dood. Of jy is in soveel geldnood dat jy by jou werk steel of bedrog pleeg. Ons bly maar mens en die goeie wat ons wil doen, doen ons nie altyd nie. Jesus het gesê dat selfs al dink jy net sleg van iemand het jy hom in jou kop vermoor. Dis so goed soos moord.

Gelukkig is ons in ʼn tyd van die jaar wanneer ons met sekerheid weet dat ons ten spyte van ons sonde en slegte dade en woorde geregverdig is deur Jesus se bloed. Hy het ons daardie Paasfees met sy bloed gereinig van die ergste sonde wat ons kan doen. Hy het gesterf sodat ons kan lewe in oorvloed. En Hy het opgestaan om ons te wys sy krag leef in ons. Ons kan opstaan van ons swakhede en voor begin want hy het ons straf gedra. Ons hoef nie met skuldgevoel te leef nie. Ons is vergewe.  Tot ons die dag waarlik saam met hom in die ewige lewe opstaan. Prys Sy Naam.

  • Blogger - René van Zyl

    René van Zyl is 'n oud-joernalis, skrywer (boeke, teater), blogger en kinderwerker. Sy skryf hoofsaaklik lekker interaktiewe kinderkerk materiaal, wat die Bybel van voor tot agter met geheueptrente of speletjies deurwerk. René is 'n regterbrein, buite-die-boks denker; getroud met 'n net so buite-die-boks predikant, Anton. Hulle het twee dogters, Michelle (21) en Chantal (18) en ’n breingestremde seun, Sean-Jacques (23). Hulle lang pad van trane, lag en genade het haar geleer om die lewe en sy reëls nie so ernstig op te neem nie.
    www.renevanzyl.blogspot.com
    www.bybelboekwurm.blogspot.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.