'n Ma veroorsaak stormwinde...

by Blogger - Liana Schönborn / Mar 16, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 475 mense.

Die wind loei vandag hier om my huis. Deur die venster by my gunsteling sitplekkie kyk ek hoe hy sterk bome laat buig, liggewig blaartjies optel en ver van koers af laat swiep en plastiek speelgoed karre buite sommer self laat ry.

Binne my huis waai hierdie week ook so ʼn wind, hy is meer figuurlik van aard. Hy word aangevuur deur die mengsel van drie kinders, drie toetsreekse én ʼn ma met PMS.

ʼn Tiener beskou homself as volleerd. Hy het die wêreld blykbaar so ingekom. Die skool en toetse gaan hom níks nuuts leer nie. Nee, sy foon waarvan hy skynbaar sy suurstof verkry, is die ding wat meeste van sy aandag eis. Wanneer ʼn ma met PMS en ʼn Tiener met oorfone wat aan sy kop vasgegroei het, mekaar in die gang ontmoet  ontstaan ʼn storm... Volgens google ontstaan storms as gevolg van groot drukverskille in die atmosfeer, wat oor 'n relatief klein afstand optree. Vrek raak beskrywing  in ons geval...

ʼn Blom se emosionele emmertjie is só vroeg in die jaar alreeds dolleeg. As ek haar nog een middag met haar kop in die hande en ʼn sopnat gevreetjie moet kry ... Sy voél té emosioneel om te leer, sy kan nie fokus want sy voél hartseer en sy voél seergemaak. Sy voél sy sal later leer sodra sy beter voél. ʼn Ma met PMS voél niks nie. Sy gaan blaas stoom af  op ʼn ander plek, want die blommerige emosionele wese in die kamer sal dit beslis nie kan verwerk nie.

ʼn Kleinman wil leer en hy wil noú leer... Hy wil ook doen soos juffrou sê hy moet doen en ek het geen sê of opinie nie. Hy is eintlik waarvan ek nog altyd gedroom het maar nou te moeg is om te waardeer...

Wyl ek die wind daarbuite betrag en dink oor die winde hier binne ons huis die week vra ek:

 “Ag Here, help my asseblief my kritiese tong in toom hou met my selfoon/oorfoon Tiener. Ons kan nie dat sy stewig wordende stam bars of breek onder my aanslag nie. Maak my woorde ʼn sagte briesie wat sy stammetjie buigsaam hou, maar nie laat verhard nie.

Hou my emosionele gieter tog asseblief propvol Here, selfs in PMS- tye.  Gee my hope geduld  om ʼn Blom te koester in hierdie onstabiele ooremosionele jare. Ek wil nie sien dat elke wind wat verbykom haar soos ʼn blaartjie opraap en van koers af swiep nie.

Ek wil vra, dat U my  sal laat regstaan vir ʼn wil-graag-leer Kleinman, om op my pos te bly om hom eerder aan te moedig. Mag hy nie ooit voel soos ʼn plastiek speelgoed kar buite wat maar deur die wind gedryf word, soos baie jongstes soms voel nie.

Tem tog die winde in my huis wat onnodige storms wil meebring. Maak U die dreigende storms in my huis stil soos U destyds op die see van Galilea ook gedoen het. 

En Here, help my en elke ander Mamma om te onthou dat skoolpunte regtig niks weeg teen karakter en integriteit wat ons nou kweek nie. Help ons om so bietjie te chill gedurende toetsreekse. Dankie my Koning. Amen.”

 

  • Blogger - Liana Schönborn

    Ek is ’n bevoorregte tuisbly mamma van 3 kinders. ’n Sagte tiener, ’n vrolike Blom en ’n Kleinman wat ’n ding sê soos hy is. Ek is lief vir my God, vreeslik erg oor my Hoof van 17 jaar en mal oor my kinders. Skryf is een van  my passies en ek deel graag my reis deur die lewe met mede-mamma’s. Mag ek hoop bring, geloof weer laat opflikker en elke leser se hart roer, as instrument in God se hand. Volg ook my persoonlike blog by: http://doodgewonema.wix.com/doodgewonema

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.