’n Ma wroeg deur die Tiener-fase...

by Blogger - Liana Schönborn / Mar 22, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 409 mense.

Iewers gedurende hierdie naweek het ek besluit ek is dik vir Tieners. Elke sogenaamde kenner kan vir my vertel wat hulle wil oor die spesie, ek glo niks.

Die kenners was in een van twee scenario’s. Of hulle het net een op ʼn slag gehad, óf die twee wat gelyk tieners was het beide gemoedelike, kalm geaardhede, moontlik van beide hulle kalm ouers oorgeërf.

Hiér is dit nie die geval nie. Hiér het hulle dit waarskynlik ook van hul ouers oorgeërf dus gaan niks hier gemoedelik of kalm nie. Om tieners wat houtpopperig voor die TV lê, by hulle boeke te kry om te leer is ʼn enorme taak, feitlik onbegonne. Dit bly my grootste frustrasie. Hulle vervlakste aanhoudende hongerte irriteer my ook grensloos. Ek het die hele naweek baklei, oor die Blom die koekies wat ek voor die naweek, vir die daaropvolgende week gekoop het, in een uur opgeëet het. Haar snipperige antwoord? “Ek het nie gesê koop koekies nie, ek wil nie eintlik koekies hê nie, maar dit is nou hier nou eet ek dit maar...”

’n Tienerseun spits hom veel eerder toe op oorskiet kos en vleis, wat ek suutjies gebêre het vir ʼn volgende ete. Helaas, dit verdwyn voor dán en die enigste bewys daarvan is ʼn leë bak in die yskas en ʼn groot tevrede glimlag om sy mond. 

Die Blom daag my uit soos sy laas as driejarige gedoen het, my woede maak my vrek lelike goed uiter, waarvoor ek darem vir haar en al die aanhoorders om verskoning vra. Ek kan die genotvolle uitdrukking op die Kleinman se gesig lees, geen aandag meer op hóm nie.

Net soos ek dan my spreekwoordelike kookpunt bereik storm ek die Tiener se kamer in en berispe hom dat ek weet hy niks geleer het nie en ek hom nou gaan vrae vra. Wyl ek vra en hy baie getrou alles kan antwoord begin hy my voete met room insmeer. Hy masseer lekker hard en ek voel hoe die (selfopgelegde) spanning sommer deur die voete die wyk neem. My beide hande word ook een-een gedoen en soos ek die goed voorbereide Tiener se kamer uitstap voel ek nou liggies dik vir myself. My oog vang die Blom se kamer en ek besluit vol bravade om dieselfde daar te gaan probeer, moontlik kry ek dieselfde behandeling... Ek was verkeerd. 

Later die middag stap ʼn Tiener uit sy kamer op pad na ʼn maat, ʼn ma se hart gee ʼn snaakse ruk. Ek sien asof vir die eerste keer die mooi jong seun waarin hy besig is om te verander, en ek weet daar is hoop vir die res van die opkomende Tieners in die huis. 

Die laaste aand van die naweek kom val die Blom langs my plat met ʼn groot bak springmielies wat sy self gemaak het. “Eet saam my.” Ek loer versigtig na haar kant toe, soos ek deesdae na haar kyk... versigtig... en weet as dit vir nou al is wat sy bied, is ek tevrede. Bietjie minder dik vir tieners prop ek ook hande vol springmielies in my mond en hoop om die hele tiener-ding uit te figure voor die Kleinman daar kom...

Vanoggend na die naweek gaan ek druipstert na Hom toe: “Here, U raak nooit dik vir my nie, en ek doen so bitterlik baie goed verkeerd. U bly net onvoorwaardelik lief vir my met al my nukke en grille. U byt nie my kop af as ek die een lewenstoets op die volgende hopeloos druip of elke voorbeeld wat U gegee het gerieflikheidshalwe vergeet nie. Van U kry ek nooit ʼn “I told you so” nie. U geduld met my, wanneer ek snipperig te vertelle het dat ek weet wat ek doen, maak my woordeloos. Here, ek smeek U om my minder van ʼn selfsugtige ouer en meer van ʼn ouer soos U te maak, vol genade wat elke dag nuut is. Ek is so dankbaar vir ʼn Hemelse Pa soos U. Amen.”

  • Blogger - Liana Schönborn

    Ek is ’n bevoorregte tuisbly mamma van 3 kinders. ’n Sagte tiener, ’n vrolike Blom en ’n Kleinman wat ’n ding sê soos hy is. Ek is lief vir my God, vreeslik erg oor my Hoof van 17 jaar en mal oor my kinders. Skryf is een van  my passies en ek deel graag my reis deur die lewe met mede-mamma’s. Mag ek hoop bring, geloof weer laat opflikker en elke leser se hart roer, as instrument in God se hand. Volg ook my persoonlike blog by: http://doodgewonema.wix.com/doodgewonema

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.