OM TE WAX OF NIE? DIS DIE GROOT VRAAG

by Blogger - Marlene Boonzaaier / Dec 08, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 473 mense.

Wel dames, die einde van die jaar het aangebreek. Vir ‘n wyle kan jy die werksdruk op die agterbaan skuif en uitsien na ‘n heerlike, luilekker vakansie op die strand of selfs langs die swembad tuis, al is dit ‘n opblaasswembad, enigiets om die hitte te troef! Nou vir die groot vraag.... Wat is die beste manier om van ongewensde hare ontslae te raak?

Ons almal weet dat ‘n mooi swembroek en lang hare, op enige gedeelte van jou lyf behalwe jou kop, nie goeie pasmaats is nie. Daar is soveel keuses. Gaan jy weer die skeermes en skeerseep uitpluk of die winkels invaar vir nuwe haarverwyderings room? Of gaan jy hierdie somer jouself  toevertrou aan die vaardigheid van ‘n goeie  skoonheidsterapeut en die hare laat verwyder met wax? Natuurlik is die laaste opsie skrikwekkend, want almal vertel jou al jare van hul ervarings en hoe seer dit was en is. Wax is regtig nie so erg as wat almal dit afmaak om te wees nie, maar ek gaan nie  jok nie, dit is maar seer en gevoelig in die begin.  Soos als in die lewe is dit aanhouer wat wen en na so paar maande pluk jy die vrugte van jou uithouvermoë.

Jou vel het follikels waaruit hare groei. Die haar begin groei aan die onderkant van die follikel en groei na bo tot buite die opening in die vel en dis ook die gedeelte van die haar wat jy sien. Wanneer jy skeer of haarverwyderings room gebruik, verwyder jy net daardie gedeelte van die haar wat sigbaar is, want geen middel kan die follikel binnegaan nie. Daardie twee metodes versterk en vermeerder ook die haargroei. Wanneer jy egter wax, word die hele haar uit die follikel verwyder, dis waarom dit ook seerder is as enige ander manier van hare verwyder, want die haar word aan die binnekant van die vel gekoppel aan bloedvate vir voeding en ook senuwees.

Die goeie nuus is:  wanneer die hare verwyder word met wax veroorsaak dit nuwe hare om in die follikel te vorm maw daar is geen stimulasie van haargroei nie en die vel voel sagter as ooit tevore, selfs wanneer die hare weer begin teruggroei. Nog ‘n voordeel van wax is dat die hare drie na vier weke neem om terug te groei

Met sulke voordele is dit beslis die moeite werd om die saak verder te ondersoek en wax ‘n kans te gee. Dit bly egter ‘n geval van persoonlike voorkeur.  Nou, voordat jy jou haas na die eerste skoonheidsalon waarvan jy weet, laat ek jou nog ‘n geheim vertel. Wees versigtig en beplan noukeurig... hoekom?

Om die regte skoonheidsterapeut te kies is dieselfde as om ‘n vriendin of ‘n vertroueling te kies, want dit moet iemand wees met wie jy gemaklik kan wees en vertrou. Iemand met wie jy jou hart kan uitpraat en kan weet dit bly net daar in die kamer. En dan moet sy natuurlik ook die regte kwalifikasies en ondervinding hê.

Besoek gerus ‘n paar salonne en kyk noukeurig waarvan jy hou of nie. Luister ook na aanbevelings van vriendinne en familie.  Die spreekwoordelike “word of mouth” is ons terapeute in die skoonheidswêreld se beste vorm van advertensie.  Daarmee saam wil ek ook sê dames, ons as skoonheidsterapeute is ook maar net mense. Somtyds sluip daar klein foutjies in waarvoor ons net kan omverskoning vra. So vergewe ons asseblief en wees lief vir ons

LYK MOOI – VOEL MOOI GROETE TOT VOLGENDE KEER

 

 

 

  • Blogger - Marlene Boonzaaier

    Marlene Boonzaaier het haar eie skoonheidsalon in Sasolburg. Na skool het sy 'n skoonheidskursus gevolg by die Harrieth Jane Skoonheidsakademie in Potchefstroom. Daarna het sy onder andere vir Steiner Transocean aan boord van die Veendam gewerk, waar  sy waardevolle ondervinding opgedoen in skoonheid sowel as alle spabehandelings en massering.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.