Onder die vergrootglas

by Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen / Feb 24, 2017 / 2 Kommentaar / Gelees deur 952 mense.

Geskenke maak my kinderlik opgewonde. Ek probeer dit nie eers wegsteek nie.

Ek kan nie wag om te sien wat my man opgedis het nie! Hy sit styf langs my terwyl ek die verrassing oopmaak. Binne-in vind ek ‘n joernaal met die woorde ‘Big dreams and grand schemes’, ‘n spa geskenk-bewys en ‘n kaartjie met die mooiste woorde. Ai, hy kan toor met sy vrou se hart. Hy kry te veel soene.

2016 was maar wild vir ons. Manlief het onder andere sy arm gebreek en moes verskeie operasies ondergaan. Hy was onder sterk verdowing vir pyn en die rehabilitasie proses was geen piekniek nie. Op my verjaardag het hy wakker geword uit een van sy benewelde drome, ‘baie geluk met jou verjaardag’ gemompel en weer geslaap. Ek het myself vreeslik jammer gekry.

Terwyl ek so na my geskenke staar besef ek dis eintlik maar wat elke paartjie nodig het op ‘n gereelde basis. Die lewe druk so van alle kante af dat ons blindelings by mekaar verby hardloop. Ons het nodig om intensioneel tyd te maak om mekaar se liefdes-dialekte te verstaan. Mense kan in een land ‘n taal praat, met verskillende dialekte wat eie is aan ‘n bepaalde streek of gebied. Jou maat se manier om liefde te ervaar is uiters eiesoortig. Dit gaan die observasie vermoëns van Sherlock Holmes neem om hierdie raaisel op te los.

So wat gun ek elke paartjie die jaar?

‘n Geleentheid om saam te droom

Om te droom beteken om saam uit te sien na die toekoms. Dit kan klein of groot wees. Beplan ‘n trippie iewers waarheen jul nog nie was nie. Besluit saam op ‘n projek om saam aan te werk. Kies om saam fiks te word.

‘n Geleentheid om te rus

Ons het almal tyd nodig om te ontspan en die batterye te herlaai. Besluit op ‘n dag of ‘n aand waar jul geen ander verpligtinge het behalwe om te ontspan nie. Speel ‘n bordspeletjie. Gaan stap of swem. Vang ‘n middagslapie.

‘n Geleentheid om te praat

Woorde maak ons heel of breek ons af. Kies om opbouend met mekaar te gesels. Sê dankie. Skryf ‘n briefie. Deel jou hart sonder beskuldigings. Vergewe mekaar. Bid vir mekaar.

Vat vas jou vergrootglas en kom ons soek geleenthede om goed te wees vir mekaar!

  • Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen

    Marthinus en Bianca Steffen is vir die laaste sestien jaar getroud en steeds opgewonde daaroor. Hulle sal onomwonde erken dat hul nie perfek is nie, maar dat hul beter saam is, as apart. Hulle hou van laat-aand geselsies, koffie, lees, draf, saam reis en nuwe plekkies ontdek.

kommentaar (2)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.