Ons hou plaastroue

by Blogger - Toortsie / Jan 06, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 452 mense.

Foto: Kobus Tollig

‘n Plaastroue het sy eie karakter, sy eie uniekheid, sy eie atmosfeer. Om ‘n koue, massiewe plaasstoor te omskep in ‘n knus en warm onthaallokaal, hou uitdagings van sy eie in.

Maande voor die tyd word daar al gewoel om die plaaswerf netjies te kry. Die stoor word afgespuit en geverf. Dít wat ‘n week tevore ‘n werkswinkel was waar plaasimplemente gestoor en herstel is, kry binne ‘n paar dae ‘n totaal nuwe baadjie. Die boer en plaaswerkers werskaf vir ‘n vale.

Genadiglik is daar mos in die platteland mense wat dit hulle werk maak om van ongewone plekke troulokale te maak en hulle word ingespan. ‘n Buite-kuierarea word geskep met massiewe strooibale om die wind af te keer, lusernbale word uitgesit vir lekker saamkuier op die laat somermiddag. Net genoeg draperings word in die stoor gehang om dit ‘n sagte atmosfeer te gee, sonder om die stoor-effek totaal te verloor.

Alles verloop goed en ‘n heerlike, unieke plaastroue vind plaas.

Die Elim Blaasorkes skep ‘n gesellige atmosfeer by die klein kerksaaltjie wat net mooi groot genoeg is om almal te huisves vir die seremonie. Vir eers kuier ons tog te lekker in die buitelug op die lusernbale terwyl skaaptjoppies en roosterkoeke sommer net daar gebraai en bedien word.

Ons ontvang die bruid en bruidegom in die dansarea met ‘starlights’, waar ‘n groot, ou koringmeul ‘n gesellige plaasatmosfeer skep, terwyl Les Javan sing: “Oeeee, daar’s ‘n lied in my hart, met jou aan my sy; Daar is hoop, daar is vreugde vanaand; En ek voel soos ‘n koning met jou aan my sy, daar is alles wat net mooi is vanaand.”

Skielik word die draperings weggevou en ons word deel van die groter area waar elkeen by sy tafel gaan sit. ‘n Blommefees!

So lekker!

Groete

Toortsie

 

  • Blogger - Toortsie

    Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man, Kobus Burger, boer in die Overberg. Madelé is betrokke by die administratiewe kant van hul gemengde boerdery.  Sy het ‘n BComm-graad en HOD aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, sowel as diplomas in Christelike Nood- en Traumaberading en Bybel- en Godsdienskunde aan die Hugenote Bybelinstituut, en ‘n sertifikaat in Vervoerekonomie aan die Universiteit van Johannesburg. Besoek haar blog: toortsie.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.