Oor die nuwe jaar en oor vlak 3 waterbeperkings

by Blogger - Liesl Cronje / Jan 05, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 274 mense.

Januarie 2017. Ek mag net met ‘n emmer my tuin natgooi, elke dag, enige tyd, maar dit word aanbeveel deur die munisipaliteit, dat ek dit liewers vroeg-oggend of laatmiddag doen.   

Dit is baie moeilik hierdie emmer ding, want emmers water is swaar en ‘n mens kan net soveel water dra voordat jou arms moeg word.  Die munisipaliteit weet dit natuurlik, dit is waarom hulle sê:  “Net emmers …”, want hulle weet vrouens maak meestal tuine nat en hulle weet vrouens is nie so sterk soos mans nie – al dink vrouens hulle is (wel, ek dink soms ek is …).  Ons vrouens kan dus nie so baie emmers dra nie, en daarom werk waterbeperkings, want ons dra die emmers, en emmers water is swaar.

Omdat ek so lief is vir my tuin en al my plante, is dit is baie moeilik om te sien hoe my Jasmyn bos bruin raak en my eens groot pynappel-salie voor my oë verdwyn.  Al my fyntuin is weg en ek moet mooi kyk om bietjie van my kruie te kry.  Ek dink ek gaan eintlik stadig dood, net soos my tuin, en ek is bang dat die droogte ook my hart gaan inneem.

In my hart is ek my tuin.  My seun se vriend noem my ‘Mother Earth’.  Hy kan diep sien, hierdie vriend.   My kinders dink ek is ‘n ‘undercover hippie’, en ek dink hulle is reg.   Plante is belangrik, en groen is belangrik, en water en ook groei en liefde en vrede, en vreugde.    Hoe moet ek dan maak as die water opraak, en die groen verdwyn, om die hoop, en die vrede en die vreugde te hou?

Ek luister ‘n preek.  Bill Johnson van Bethel Church praat oor ‘Hope in all circumstances’.   Hy praat oor die vyand wat floreer in droogte, wat juis droogte en iets soos woestyn in en rondom ons wil bewerkstelling.  En hy praat oor strome van water,  Lewende Water, en oor vloei, en oor reën en oor dankie sê as dit reën, en oor bid vir reën al reën dit reeds, en oor groei en oor oorvloed.   

En ek sê dankie.  Dankie vir my man wat vir my ‘n gryswaterdammetjie begin het omdat hy lief is vir my, sodat ek my belangrikste plante kan natlei.  Wat my wasmasjien gekoppel het en ‘n uitlaat opgestel het sodat ek  ‘n miniatuur grasperkie kan natlei met wasgoed-water.  Wat vir my ‘n basillie en tiemie kruietuintjie begin het, wat ek maklik met liefde en met ‘n gieter kan natlei (het jy geweet tiemie beteken durf en moed en aanhou?).  Wat vir my die voëltjie-bad met ‘n emmer water volmaak, en wat vreemde korrels in my voordeur tuintjie inspit sodat die emmers water wat ek daarop uitgooi langer kan hou.  Wat dit alles doen sodat my hart hoop kan hê.  Hoop vir groei, en vir liefde, en vir vrede, en vir vreugde.

En ek sê ook dankie vir my sussie in die groen Noordwes waar water nie nou ‘n probleem is nie.  Wat vir my ‘n Bybelvers stuur wat gaan oor ‘n pad deur die woestyn, en oor riviere wat ontspring in ‘n droë wêreld en oor songebakte aarde, en oor mense en diere wat dankie sê vir water en vir vloei.   Want sy het nie geweet van die preek wat ek geluister het nie, en sy het nie geweet dat my hart water kort, net soos my tuin nie. 

Ek het moed vir 2017.  Ek gaan baie oefen,  sodat ek sterk kan raak om emmers water te dra.  En ek gaan glo dat dit gaan reën in die winter, genoeg sodat alles weer volgende somer sonder moeite kan groei. En ek gaan bly hoop, vir groei, en vir liefde,  en vir vrede en vir vreugde, sodat hierdie jaar ‘n jaar kan wees van oorvloed.  Dat ek weer ‘n  ‘Mother Earth’ kan wees, en ‘n ‘undercover hippie’, en dat ek hoop kan wees vir ander, wat dalk droogte lei …

Ek hoor hoe Hy sê:  “Kyk, Ek gaan iet nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom.  Ek maak in die woestyn ‘n pad.  Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring”.  Jesaja 43:19.  

  • Blogger - Liesl Cronje

    Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het.
    “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel.  Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme.co.za vir meer blogs en Instagram: ThymeforStories.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA