Oud maar nog nie koud

by Blogger - Annalize van den Heever / Dec 23, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 909 mense.

Ek is offisieel in ‘n middeljare krisis.

Hoe weet ek dit?   Ek voel oud en afgeleef en gebruik woorde soos ou bene, verlore jeug, oor die muur en middeljarig, om na myself te verwys.  Dalk is ek eerder net in ‘n moewiese krisis en het my kop my gelos?

Ek weet nie…  my dogter is in die fleur van haar lewe en ek voel jaloers op hul skoonheid en energie.  Nie op ‘n katterige en venynige manier nie, ek wonder net hoekom kan ek nie eens onthou dat ek ook so jonk en pragtig was nie.  Dit voel soos ‘n ewigheid terug. 

My lyf het my in die steek gelaat.  Vier jaar terug het sekere dele van my anatomie die ‘potloodtoets’ met lof deurgekom.  Nou druip hulle dit in hulle kas in.  My arms raak te kort wanneer ek klein woorde moet lees.  Alles is stadiger.  My brein, my bene, my bleddie metabolisme.  Ek eet twee dae feestelik en ek weeg drie kilogram swaarder.  Ek drink ‘n paar glase wyn oor ‘n naweek en my enkels swel op.  Ek kry weer aknee soos ‘n tiener! Hoe verkéérd is dit nie.

As ek twee dae na 23:00 gaan slaap voel ek soos ‘n wrak.  Ek raak vanself 05:00 wakker..om te gaan piepie natuurlik..tot my blaas is ‘n koei. 

Ons was by ‘n pragtige troue die naweek, met pragtige jong mense.  Die fotograaf het my tannie genoem... hy is 31 en het twee jong kinders.  Die blik..skottel.  Ek het hom gevra om dit asseblief nie te doen nie, maar hy het weer…

Dis ‘n subtiele verandering wat in die lug is en ek sukkel om dit in woorde te omskryf.  Dis asof die rolle bietjie omgedraai is.  Waar ek voorheen raad oor voorkoms en optrede gegee het, ontvang ek nou raad oor voorkoms en optrede.  Ek word soms aangekyk asof ek mal is.  Ek gebruik ‘n idioom terwyl ek praat en my kinders vra my hoekom praat ek so outyds.  My jongste vra my hoe het dit in die ou dae gelyk. Ek luister na dieselfde musiek as meeste jongmense wat goeie smaak het, maar as ek saam met ‘n van Coke liedjie sing of liggies headbang dan word ek verbysterd aangekyk. 

Dis my probleem… ek is ‘n koorsinger van voorkoms, maar ‘n headbanger in my hart.  Die twee is heeltemal onversoenbaar in die werklike lewe waarin ek my bevind.  Die koorsinger is aanvaarbaar en veilig, en ook ongelooflik boring, die headbanger is weird, maar ís sy prettig. Daar is tye waar ek haar toelaat om los te breek.  Ek kies net my gehoor versigtig.  Ons deel gewoonlik dieselfde gene en is ewe mallerig.

Een van die voordele wat saam met die middeljare kom is dat jy nie meer omgee om vreemd aangekyk te word deur vreemde mense nie.  Jy sê meer dikwels wat in jou kop aangaan sonder om die woorde te meet en dis heerlik.  Ek het gedink ek het vrede met myself, maar hierdie krisis het my onverhoeds betrap.  Dis ‘n nuwe ding waarmee ek moet vrede maak en terwyl ek hierdie skryf is dit asof ek myself helderder in die spïeel sien.

Hierdie tannie hét al geleef en kan almal wat voel asof hulle my tannie wil noem ‘n paar dinge van die lewe leer.  Ek ken my donker kant en ek is nie bang daarvoor nie.  Ek het al foute gemaak en ek is nie meer skaam daaroor nie.  Ek werk nie meer vir mense se goedkeuring nie, jy kan van my hou of my haat.  Jy kan by my kom kuier al is my huis nie perfek skoon nie, my koffie is lekker.  Ek het al beleef dat geluk nie altyd eufories en fabelagtig is nie.  Ek het al geleer dat elke verhouding waarin jy jou bevind sy ontnugterings het.  Ek weet ook al dat dit nie die einde van die wêreld is nie.  Ek het al geleer om nie te sê dat ‘n mens my alles is nie.  Ek weet dat dit nie die waarheid is nie.  Een mens kan nooit jou alles wees nie, want as die mens in sy verganklikheid nie meer daar is nie, moet jy kan léwe. Ek het al geleer dat die lewe te kort is om stom te wees.  Ek het my stem gevind en ek gebruik dit.  Ek weet ook dat die lewe te kort is om kwaad te bly.  Ek weet dat asemrowend ‘n baie meer treffende woord as awesome is.  Ek weet dat liefde baie meer in jou kop as in jou hart sit.  Ek weet dat alles wat vir jou kosbaar is, verniet is en niks kos nie.

Ek skitter dalk nie meer soos ‘n blinkgevryfde diamant nie, maar daar is ‘n vuur binne my wat onblusbaar is.  Hierdie tannie, hou báie dinge aan die brand en warm.  Ek is nou so opgesweep in my kop dat ek dit oorweeg om grys te gaan.

  • Blogger - Annalize van den Heever

    Annalize van den Heever is ma van drie dogters. Sy blog met eerlikheid en geesdrif oor dit wat in haar hart en lewe aangaan. Sy het al vir jare haar eie blog by www.dievervuldevrou.co.za wat sy beskryf as “‘n dagboek vir my (en eendag my dogters), oor my reis na vrede.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.