Pap tyres en Pienk fietse

by Blogger - Charme Kriel / Mar 23, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 1642 mense.

Lisa het so maand terug een oggend wakker geword en voordat sy eens hallo sê was haar woorde: “Pappa gaan vir my 'n pienk fietsie koop, nê Mamma; met 'n helmet, nê Mamma?”

Net skielik het hierdie pienk fiets droom ontstaan en elke dag vra sy so ten minste 10 keer vir dié spesifieke pienk fietsie met ʼn helmet.

Die afgelope naweek was ons by ouma en oupa in Montagu en sowaar… daar haal oupa ʼn pienk fietsie met ʼn klokkie uit die stoorkamer uit. Nog nooit het ek Lisa so opgewonde gesien nie. Sy kon nie wag om te gaan “ry” nie. Sy het vir oupa ʼn groot soen gegee en daar is ons, met klokkie en al, die pad af om te gaan fietsry.

Maar soos meeste goed in die lewe was dit toe nogal nie so maklik nie. Sy kon glad nie verstaan hoekom die fietsie nie self vorentoe ry nie. Hoekom moet sy trap? En gou het sy agtergekom dat fietsry eintlik harde werk is. Sy het gehuil toe sy nie die pedale gedraai kon kry nie en die teleurstelling was op haar klein gesiggie geskryf.

Toe ouma besluit om haar toe maar vir ʼn uur in die pad op en af te stoot, het sy weer gelag en haar gate uit geniet. Arme ouma se voorkop was vol liefdesdruppels en haar rug was die volgende dag styf, maar stoot het ouma gestoot.

Terwyl ek met my kamera staan en die hele petalje afneem, dink ek aan hoe simbolies fietsry kan wees. Dat ons soms so bitter graag iets wil hê. Dat ons weke of maande of jare vra daarvoor,  bid daarvoor en wag daarvoor. Dan, as dit uiteindelik op ʼn skinkbord vir ons gegee word, wil ons nie die werk insit om die vrugte daarvan te pluk nie.

Dit het my ook laat dink aan die fiets met die pap wiel wat in ons garage vol stof staan. En dat ons soveel dinge in ons lewe het waarvoor ons voorheen gebid het, maar dat ons dit nou afskeep. Dat soveel van ons seëninge in die garage lê en stof opgaar.

Aan die einde van ʼn wilde eerste kwartaal voel my wiele ook bietjie pap en het ek verseker ʼn laag stof wat op my lê. Ek voel afgemat en kort weer bietjie ʼn polish.  Wel, vandag gaan ek weer probeer fietsry.  Ek gaan die regte fiets se wiel-oppomp vir my man los, maar my geestesfiets sal ek vandag weer ʼn slag bietjie Mr. Min.

En ek weet ek gaan dalk sukkel om al die bulte op te ry, maar trap sal ek trap. En as ek nie meer onthou hoe om te ry nie, sal ek vertrou dat God my “ouma” sal wees wat my sal lei en wat my sal leer hoe om dankbaar te wees vir ons gawes en hoe om te dien. Een ding is seker: die wiele kan mos nie altyd pap bly nie.

  • Blogger - Charme Kriel

    Ek is 'n doodgewone, plat op die aarde, kaalvoetmamma van 'n wonderwerk babatjie wat op 28 weke gebore is. Haar storie het my inspireer om te begin blog en nou kan ek nie ophou nie. Lees meer oor haar by www.lisa28weekliefie.com.
    Ek  is 'n voltydse onderwyser, ma en vrou en 'n deeltydse blogger en fotograaf. Ek bly in Simonstad,  is passievol oor Afrikaans en is mal daaroor om in my hartstaal te kan skryf.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.