Planne met plooie

by Blogger - Marlene Boonzaaier / Mar 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 2433 mense.

Soos wat die jare aanstap en ons onvermydelik ouer word, glo my, ek word ook elke dag al hoe meer daarmee gekonfronteer, word die spieel eerder ‘n vyand as ‘n vriend.

Hoe baie staan ons as vrouens nie voor ‘n spieel en bekyk ons velle van hoek tot kant nie, net om met ‘n skok te besef dat daar nog ‘n plooi bygekom het wat nie gister daar was nie.

Nou is dit dan die tyd dames, om planne te maak met daardie plooie, planne om dit te voorkom en as dit nog nie so diep gewortel is nie, te verwyder en te verban.

Ek gaan vandag vir julle ‘n paar idees gee hoe om dit reg te kry en as dit nie vir julle werk nie, volg daar ook ‘n paar behandelings wat julle tuis kan beproef asook by ‘n spa gaan uitprobeer om van die meer diep gewortelde plooie ontslae te raak.

Baie belangrik en ek dink baie van ons weet dit reeds....  as jy minder plooie wil he, bly weg uit die son...

As dit nie ‘n moontlikheid is nie, dra dan sonskerm wat die vel kan beskerm en onthou ook om dit gereeld aan te smeer veral as jy vir ‘n lang tydperk in die son moet wees.

Moenie rook nie

 Dis ‘n boodskap wat  weerklink in die skoonheidswereld en daar is dames daar buite wat dit tot vervelens al gehoor het, maar dis regtig so...  as jy rook, stel dit ensieme vry wat kollageen en elastien in die vel afbreek en dus meer plooie veroorsaak.

Kry genoeg slaap

As jy te min slaap, produseer die liggaam ekstra kortisol, ‘n hormoon wat selle in die vel afbreek,  so dames, gaan kruip maar vroeg in en maak seker julle kry die volle 8 ure slaap per nag in.

Eet meer vis

Vis is ‘n groot bron van Omega 3 wat help om die vel te voed en dit plomp te hou, so vir al die visliefhebbers daar buite, hier is nou ‘n goeie rede om meer vis te eet, pasop maar net vir die sushi want dit bevat weer baie kaloriee.

Ruil die koffie vir kakao

Dit is eintlik algemene kennis dat kaffein in koffie dehidrasie veroorsaak, nie net in die vel nie maar ook in die liggaam.  So ruil maar gerus jou koppie koffie vir kakao wat help om die vel te beskerm teen sonskade en ook bloedsirkulasie aanhelp.

Eet meer groente en vrugte

Groente en vrugte bevat baie antioksidante wat die vel help om jonger te laat lyk, saam met al die reeds baie voordele wat groente en vrugte vir die liggaam inhou, help dit nog om die plooie ook weg te hou.

Gebruik vogroom

‘n Bevogte vel lyk net beter en plumper en dan is die fyn lyntjies ook baie minder sigbaar, so dames, smeer maar gerus daardie vogroom in die oggend en aand.

Daar is selfs nog meer planne met plooie wat ons kan beproef:

Tuisbehandelings:

AHA’s:
Dit staan ook bekend as Alpha Hydroxy Acids maw dit is vrugtesure wat gebruik kan word om die boonste laag van dooie velselle te verwyder om die plooie minder opsigtelik te laat lyk.

Retinoids:
Retinol is ‘n hoe vorm van Vit A wat ook gebruik kan word op die vel om plooie sagter te laat vertoon.

Topiese Vit C: Dit help om kollageen produksie te vermeerder, beskerm die vel teen sonskade, help om pigmentasie te korrigeer, en verbeter ook inflammasie in die vel.

Salon- of Spa behandelings:

As jy op soek is na vinnige en meer drastiese resultate om van die lastige plooie ontslae te raak, kan jy gerus die volgende behandelings gaan uitprobeer by ‘n goeie skoonheidsalon of Spa:

Botox
Fillers
Laser
Chemiese afskilfering
Dermabrasie

Moenie skaam wees nie en vra gerus jou skoonheidsterapeut vir die beste raad oor behandelings wat plan sal maak met jou plooie en ook by jou leefstyl sal aanpas.

LYK MOOI VOEL MOOI GROETE TOT VOLGENDE KEER

  • Blogger - Marlene Boonzaaier

    Marlene Boonzaaier het haar eie skoonheidsalon in Sasolburg. Na skool het sy 'n skoonheidskursus gevolg by die Harrieth Jane Skoonheidsakademie in Potchefstroom. Daarna het sy onder andere vir Steiner Transocean aan boord van die Veendam gewerk, waar  sy waardevolle ondervinding opgedoen in skoonheid sowel as alle spabehandelings en massering.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.