Saluut my keiser susters!

by Blogger - Johanise Fouché / Jan 03, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 285 mense.

Ek luister altyd so graag na almal se kraamstories.  Die ek-het-‘n 4.5kg-baba-uitgepop moeders.  Die natuurlik-sonder-medikasie brigade en ek wil sê, ag maar mooi man, trots op jou. Hoe maak normaal kraam van jou ‘n sterker vrou, beter ma, verhewe bo ons keiser susters?

Ek was ook een van hulle.  Soos die geboorte van my oudste nader gekom het, het ek ook besluit ek doen dit so normaal as moontlik.  Geen epiduraal, gas, selfs nie eers ‘n Panado nie.  Sy verwagte datum was 24 Junie en ek het 15 Junie ‘n ginekoloog afspraak gehad.  Almal het gedink die baba gaan vroeg kom, van agter sou jy nooit se ek is swanger nie, maar oh my hat, van voor en van die kant was dit ‘n baie ander storie.  Ek was net boobs en pens.  In elk geval, lê op dokter se bed en met een kyk na die sonar word ek meegedeel dat hierdie ‘n groot knaap is.  Ek is van die begin af gesê normaal kraam vir my sal uit wees sodra die baba 3.5kg is, maar watter kind word nou groter as 3.5kg gebore?

Myne.

Ek sal volgens medici hierdie normale kraam nooit oorleef nie.  Ek wil huil, skop, skree, maar tog dink ek aan die pyn van ‘n miskraam op 19 weke en ek besef (teen my wil) dat hulle seker weet waarvan hulle praat.  Mornè baklei met my, want alhoewel ek weet hulle is reg wil ek dit nie aanvaar nie.  Ek wil normaal kraam.  Ek wil ook wys ek is sterk, niks kan my onderkry nie.  Ek is ‘n natuurlike ma.  Ek is so ontsteld dat hy die familie moet bel en sê ek gaan die Vrydag vir ‘n keiser. 

Ek praat met niemand nie.  Vir twee dae.

Daardie Vrydag stap ek by die hospitaal in, ek bewe ‘n bewe wat ek nog nooit gehad het nie.  Ek is shit scared.  Ek wil weghardloop.  Voor die keiser styg my bloeddruk so hoog dat ek ingespuit moet word.  Alles omdat ek teleurgesteld en kwaad en bang is.  Hoe stupid???

My 4.2kg gesonde babaseuntjie word daardie oggend om 07.51 gebore.  Ek voel goed, gesond, vars.  Niks skort met my of baba nie.  Ek kan hom vashou en liefde gee. Ek kan die volgende oggend opstaan en aangaan met my lewe.  Die nagmerries oor ‘n keiser was toe glad nie so erg soos ek gehoor het nie.  

Ek besef ek hoef nie vir ure in kraam te lê om ‘n natuurlike, goeie, suksesvolle, sterk vrou en ma te wees nie.

 

  • Blogger - Johanise Fouché

    Johanise Fouché is ’n 41 jarige tuisbly mamma van twee seuns, met ’n 7 jaar ouderdomsverskil.  Na jare se gesukkel met fertiliteit het haar grootste wens met dié twee waar geword.  Sy verwonder haar soms aan hul vermoeë om haar in totale ekstase te hê oor die mooi van hulle, maar dan is daar die ander dae … hulle ying and yang persoonlikhede.  Sy probeer hulle grootmaak met soveel humor as moontlik. Hul sosiale lewe oorskry hare en daarom blog sy, om weg te kom van die alledaagse gejaag.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA