Seks, Kersvader en die Tandmuis

by Blogger - Johanise Fouché / Dec 23, 2016 / 0 Kommentaar / Gelees deur 369 mense.

Middel verlede jaar kom Terence een middag by die huis en vra my:  “mamma, wat is ‘n penis?” ek val amper van my stoel af en besef ek sal nou maar mooi moet praat.

Ja ja ek weet hulle moet van kleins af die regte woorde vir elke liggaamsdeel ken, maar dis darem so groot woord vir so klein lyfie, ek het maar by die algemene Tollaman gebly – seker maar deels omdat ek ook die enigste vrou in die huis is.

In elk geval, so het ek en hy die Groot Gesprek oor seks, penisse, Kersvader, die paashaas en tandmuis.

Seks en penisse was op sy vlak, glad nie grafies en slegs die buitelyne is geskets. Ek het baie jare gelede al besluit om ‘n oop verhouding met my kinders te hê en nooit stories oor seks op te maak nie, maar hulle hoef darem ook nie op 10 al die ins and outs te weet nie. Gelukkig het ek ‘n keiser gehad en sonder om te jok kon ek hom met trots wys waar die dokter vir hom en sy boetie uitgehaal het (aangesien een van sy slim maatjies hom vertel het ‘n baba kom by ‘n mamma se boude uit). Ek het hom ‘n boek gekoop om te lees, maar die lê steeds heel bo op sy boekrak – geen belangstelling, waaroor ek heimlik baie gelukkig is.  Op hierdie stadium in Lego, fietsry en sy maats bo-aan sy lys.

Kersvader was ‘n hartseer saak, hy het vir dae met ongeloof en skok op sy gesig rondgeloop, totaal verslae.  Paashaas en Tandmuis se hartseer was ook groot.

Gister het ons in Hartenbos aangekom en natuurlik is die Kersboom gisteraand met groot seremonie opgeslaan.  Kleinboet sit koekies en ‘n Steri Stumpie vir Kersvader onder die boom en uiteindelik gaan slaap diè.  Mornè en Terence se werkie is om die geskenke uit die sleepwa te gaan haal, sodat Schalk vanoggend met ‘n groot verrassing kan opstaan as al die geskenke onder die boom is.  Toe alles klaar is, kom sit Terence langs my op die bank, kyk met heimwee na die boom en vertel my (op 11!!!) hy wens hy het nog gedink Kersvader bring die geskenke!!!

  • Blogger - Johanise Fouché

    Johanise Fouché is ’n 41 jarige tuisbly mamma van twee seuns, met ’n 7 jaar ouderdomsverskil.  Na jare se gesukkel met fertiliteit het haar grootste wens met dié twee waar geword.  Sy verwonder haar soms aan hul vermoeë om haar in totale ekstase te hê oor die mooi van hulle, maar dan is daar die ander dae … hulle ying and yang persoonlikhede.  Sy probeer hulle grootmaak met soveel humor as moontlik. Hul sosiale lewe oorskry hare en daarom blog sy, om weg te kom van die alledaagse gejaag.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.