Skoonma se tong

by Blogger - Dorita Janse van Rensburg / Feb 21, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 891 mense.

“Skoonma is dood – moet ons veras, begrawe of balsem?”. Ander skoonseun sms vinnig terug “moet nie kanse vat nie, doen al drie”.

Daar is so baie vooropgestelde valse bewering wat die rondte doen oor skoonma’s ….. dikwels onverdiend.  Dit neem tog immers twee mense om ‘n slegte verhouding te skep. Nou is ek ook ‘n skoonma en het reeds vroeg  besluit om my skoonkinders onvoorwaardelik met liefde te aanvaar.

Ek glo dat die beste manier om ‘n goeie indruk op iemand te maak, is om hom die geleentheid te gee om ‘n goeie indruk op jou te maak. ‘n Oulike vriendin leer my jare gelede dat ‘n goeie vrou soos klokkies lag. Nou ja….net daar het ek van die lysie afgeval want ek lag lelik lekker. Oopmond, kop agteroor, uit my maag uit, besonders lekker.  En ek wil glo dat my skoonkinders vir my lief is nes ek is, met al my foute.

Ons kan vir mekaar raad vra en ook mekaar se siele uittrek oor ons verskille met die rugbyspanne waarvoor ons skree. Hulle vertrou my met die kleinkinders en maak vir my en Oupa deel van hulle lewe. Hulle bederf my met gunsteling soettand vreugdes, maar die lekkerste van alles… hulle is goed vir ons kinders. Ek het nie skoonseuns en ‘n skoondogter nie maar dankbaar vir seuns en ‘n dogter wat ons bygekry het.

Ek besef tog te goed dat ek nooit hulle eie Ma sal vervang nie en ek wil ook nie, maar ons respekteer mekaar en geniet ons eendersheid maar leer ook uit ons verskille. Ek verruil my seun se liefling en drie skoonseuns vir niks in die wêreld nie en wil tog glo dat hulle die wyse woorde van Fuller ter harte geneem het “Trou met die dogter van ‘n goeie ma”

  • Blogger - Dorita Janse van Rensburg

    Dorita Janse van Rensburg is vrou, dogter, ma, ouma en vriendin van vele. Sy woon op ’n plaas in die verre noorde van Limpopo. Sy sê: “Ek hunker elke dag na almal wat ver is, en moes noodgedwonge ander maniere aanleer om deel te bly van almal vir wie ek omgee. My liefde vir Die Woord en woorde hou my staande. Na drie jaar pas ek steeds aan en groei daagliks. Die plaaslewe bied egter ander bekorings en uitdagings.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.