Slaap - jou wondersoete ding

by Blogger - Marlene Boonzaaier / Dec 01, 2016 / 1 Kommentaar / Gelees deur 508 mense.

Al ooit die volgende scenario ervaar? Jy het ‘n besige voorlegging of vergadering die volgende dag en om een of ander rede bly die slaap wyk.

Jy rol rond en kyk nou al vir ure elke uur op die horlosie en hoe meer jy jouself probeer dwing om te slaap, hoe minder wil jou brein saamwerk en jou laat slaap.  Ek het ook so paar weke gelede so scenario beleef en soos baie van jul daarbuite het ek talle newe effekte ervaar weens te min slaap.

Nie net is slaap baie belangrik vir breinfunksionering nie, maar dit speel ‘n belangrike rol in ons daaglikse lewe en skoonheid. Ja, julle lees reg, skoonheid...  As jy te min slaap tel jy makliker gewig, want jou liggaam voel moeg en outomaties sê jou brein: “as jy eet gaan jy meer energie hê.”

As ons ook ‘n nag van min slaap oorleef het, is ons so uitgeput die volgende dag dat ons nie die dag kan aanpak sonder ‘n energiedrankie of twee nie, wat buiten al die kaffeïen ook tonne suiker bevat en so die syfers op die skaal ongemerk laat meer word.

Plooie:  ja, daardie gevreesde woord vir menige van ons dames. Na ‘n nag van min slaap, voel jy uitgewas, vaal en verlep en dan kruip al daardie plooie ook sommer uit hul wegkruipplekke... nagmerrie!  Om nie van die donker kringe en sakke onder die oë te praat nie!

Hier is ‘n paar voordele van slaap:

Verbeter jou geheue

Al voel dit nie so nie, is ons brein baie besig terwyl ons slaap. Al die inligting wat ons deur die dag ingeneem het en emosies wat ons ervaar het, word geprosesseer en na die regte stasies gestuur. Dink maar aan die film “Inside Out” as ‘n goeie voorbeeld.  Die brein het ook die rus nodig om te “reboot” en homself voor te berei vir nuwe inligting wat die volgende dag aan hom gegee word.

Bekamp inflammasie

Inflammasie dra by tot hartsiektes, beroerte, diabetes tipe 2, artritis, en vroeë veroudering. Daar is so baie boererate en pille wat daagliks gedrink en gevolg word en hier reg voor ons oë is die baie eenvoudige antwoord:  as jy inflammasie wil beveg en bekamp, kry meer slaap.

Laat die kreatiwiteit blom

As jy skeppend wil wees, maak nie saak op watter manier nie, miskien is dit skilder, dans, lesse voorberei, gedigte en selfs blogs skryf, is slaap die antwoord. Slaap help om al die emosionele komponente van ons geheue te verbeter en op daardie manier verbeter ons kreatiwiteit ook.

Voorkom depressie

Tekort aan ‘n goeie nagrus kan bydra tot depressie.  ‘n Goeie nag se slaap kan help dat ‘n buierige persoon hul angstigheid verminder en so meer emosioneel stabiel die dag aanpak. As jy dink al die lang ure en harde werk bydra tot jou gevoel van depressie, plaas dan sommer ‘n tekort aan voldoende slaap ook op jou lysie.

So daar het julle dit dames:  Gaan kry maar daardie warm glas melk, skakel die TV, selfoon, tablet en rekenaar af en gaan klim in die bed en slaap snoesig en lank.

LYK MOOI – VOEL MOOI GROETE TOT VOLGENDE KEER

  • Blogger - Marlene Boonzaaier

    Marlene Boonzaaier het haar eie skoonheidsalon in Sasolburg. Na skool het sy 'n skoonheidskursus gevolg by die Harrieth Jane Skoonheidsakademie in Potchefstroom. Daarna het sy onder andere vir Steiner Transocean aan boord van die Veendam gewerk, waar  sy waardevolle ondervinding opgedoen in skoonheid sowel as alle spabehandelings en massering.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.