Twee koppe is beter as een

by Blogger - Dorita Janse van Rensburg / Nov 23, 2016 / 1 Kommentaar / Gelees deur 1555 mense.

Ek het al vele kere gewonder wat is kameraadskap? Is dit die soldaat wat onder vuur sy gewonde makker na veiligheid dra? Wat sy eie lewe op die spel plaas?

Kan dit ʼn huwelik wees waar beide ewe hard die fiets moet trap sodat hy nie omval nie? En met tye wanneer een sy oemf verloor het moet die sterker een sorg dat al die velle nie die teer tref nie. Dit verg fiks wees, dit verg onvoorwaardelike liefde, dit verg kameraadskap en die waarheid.

In ʼn besige omgewing is dit so maklik om gou by ’n vriendin ʼn koppie tee en vertroosting te vra.  Manne soek raad by ʼn troetelboetie om ʼn braaivleisvuur of by ʼn besigheidstransaksie   (darem nie ʼn vroetelboetie nie) en vergeet wie eintlik sy kameraad is. ‘Bromance”  het al menigte huwelike vernietig al is dit net in die naam van goeie vriende. Voor ons ons oë uitvee is stilte ons enigste kommunikasie. Ons slinger verwyte oor slegte finansies en verwyt mekaar oor verkeerde prioriteite.

Ons moes hier tussen niks en nêrens – weg van almal, weer besef twee koppe is beter as een. Hier is ons mekaar se dokter, pastoor, sielkundige, vriend en vertroueling. Dis net ons en ʼn Neelsie wat van die een bank na die ander spring en elkeen sy verdiende lek op die arm gee.

Hier, stoksielalleen, tussen bos en dier  vind ons weer kameraadskap in ons lag soggens wanneer ons buite stap. Ons deel alles met mekaar… ook ons harte en verstand. Vertroue is die fondasie. Ons deel ons diepste seer en leer daagliks by mekaar. Ons sorteer ons onmin in stilte uit.

Ons trap daai fiets met vreugde asof ons lewe daarvan afhang. Ons liefdesverhaal bevestig weereens… twee koppe is beter as een!

  • Blogger - Dorita Janse van Rensburg

    Dorita Janse van Rensburg is vrou, dogter, ma, ouma en vriendin van vele. Sy woon op ’n plaas in die verre noorde van Limpopo. Sy sê: “Ek hunker elke dag na almal wat ver is, en moes noodgedwonge ander maniere aanleer om deel te bly van almal vir wie ek omgee. My liefde vir Die Woord en woorde hou my staande. Na drie jaar pas ek steeds aan en groei daagliks. Die plaaslewe bied egter ander bekorings en uitdagings.”

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA