Wat maak hierdie nuwe jaar anders as die vorige een?

by Blogger - Ansa Van Geest / Jan 09, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 118 mense.

Baie mense het nuwejaarsvoornemens. Baie ander mense wil nie eens meer probeer nie, want voor jy weet val jy maar weer terug op jou ou spore.

Sommige mense kan nie wag vir die nuwe jaar om te begin en die ou jaar se stof af te skud nie, ander klou vas aan dit wat was. Die jaar toe my boetie dood is wou ek ook nie na die nuwe jaar vertrek nie. Ek het besef dat ons nooit weer in dieselfde jaar iets sou beleef nie. Die lewe vra egter nie of jy reg is nie. Daar is geen pause knoppie wat jy ʼn oomblik kan druk tot jy gereed is vir die nuwe jaar nie. Dis amper soos ʼn roltrap wat aanbeweeg… en jou geliefde bly onder staan.

Hierdie jaar is ek versigtig opgewonde. Soos die meeste ander jare.  ‘n Nuwe jaar bly tog opwindend. Ek onthou nog die nuwe skoolskoentjies en skoon skoolklere so aan die vooraand van ʼn nuwe skooljaar. Die skoenlappers in die maag oor die nuwe klas en wonder oor watter juffrou jy gaan kry. Ou jaar. Nuwe jaar. Daar is iets van heimwee gemeng met afwagting wanneer helder klanke in die hemelruim weerklink.

Hoe kry ons dit dan reg dat hierdie nuwe jaar anders kan wees? Sommige voornemens is makliker as ander. Sommige het eenvoudig nooit ʼn kans gehad nie. Die moeilikste ding is om iets in jouself te verander. Om nie so gou kwaad te word nie, meer geduldig te wees. Sagmoedig te wees. (Wat ʼn mooi eienskap. ) Meer liefde. Meer tyd. Meer bid.

Lank gelede het iemand by ʼn skoolopening die beeld gebruik dat ons elke dag onsself by die kragprop moet inplug as ons wil aanhou brand. Ek dink aan die stukkie in Psalm 119: Hoe sal ʼn jongmens sy lewe skoon hou: “Deur dit te hou aan U woord”. My kinders knik, maar dit lyk of hul in ʼn sondagskoolklas sit. Koppe knik maar ek kan sien dit maak nie baie sin nie.

“Watter boom groei die beste, “ probeer ek weer: “die een langs die rivier of die een wat daar eenkant in die veld staan. “ Die keer kom die antwoord vinnig: “Die een langs die water.”

Skielik maak Psalm 1 meer sin. Uit onsself is dit baie moeilik om iets te verander. Om myself te verander. Die boom wat self vrug wil dra, sukkel en raak droog. As ek egter langs die rivier  staan hoef ek net my wortels uit te stoot. Ek hoef nie “Self” te verander nie, ek moet net sorg dat ek naby aan die lewende water bly. Hoe nader ek aan Jesus bly, hoe meer van Hom word sigbaar in my lewe. Dan kan ek dit reg kry om groen blare te dra al is dit hoe droog.

Die lied kom in my kop: “ Ek wil naby aan U bly, soos ʼn kind op die Vader se skoot… dit is die plek waar ek hoor…, en waar ek hoort.”

Hoe klim ek hierdie jaar in 2017 se bootjie?

Met Jesus aan my sy. Met die enigste ware voorneme: om meer soos Hy te word.

“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

 

  • Blogger - Ansa Van Geest

    Ek is 'n voltydse mamma van vier kinders (13,11 en 'n tweeling van 7), en 'n deeltydse dokter. My gawe is om die Here te dien met sang en musiek en om die mooi in dinge raak te sien. Ek hou van stories van hoop en dit is lekker om my gedagtes in woorde om te skakel. Ek kry my energie van hardloop en van die berge en die see rondom my in Somerset-Wes.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA