Wat my man en hond in gemeen het

by Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen / Mar 03, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 2320 mense.

Ek lees 'n artikel oor honde se liefdestale. Skielik is daar 'n vonkel in my oog en 'n glimlag om my mond.

‘Hoekom smile jy?’ let my man noukeurig op. ‘Nee, niks my skat!’ giggel ek. Wag! Hier kom ʼn blog… en helse moeilikheid!

Skielik beleef ek insig in die psige van beide my man en my diere. ʼn Hele nuwe wêreld gaan vir my oop. Blykbaar beleef jou troeteldiere intense aanvaarding wanneer jy hul diep in die oë kyk en met hul gesels in ʼn liefdevolle stemtoon. ʼn Kwaai, foutsoekerige stemtoon het blykbaar die teenoorgestelde uitwerking op hul emosies.

‘Nooit!’ giggel my man. Indien jou hond verby jou skuur en liggies teen jou been druk, gee hy jou lieftallige honde-drukkies. Coco, ons sterkwillige Scottie druk gereeld sy snoet teen my been. Vir die eerste keer herken ek dit vir die mooi liefdesgebaar wat dit is. Hy stamp my nie uit die pad uit om by sy kos of die bure se kat te kom nie, eintlik omhels hy my. Te oulik! Nou maak my man se gestoeiery ewe skielik ook sin vir my. En my pa se man-van-staal-drukkies wat my asemloos laat. Dis ʼn goed gekamoefleerde liefdesgebaar! Wys jou, mens kan nie alles met eerste oogopslag korrek evalueer nie.

Indien jou diere vir jou geskenkies aandra is dit ʼn teken dat hul eintlik self geskenkies wil ontvang. Dit maak sin! Fudge, ons ander Scottie dra gereeld sokkies sitkamer toe en raak letterlik uit sy vel uit opgewonde as ons ʼn honde beskuitjie gaan haal. Manlief waardeer ook geskenkies. Hy wil dit nie regtig erken nie, maar ek merk sy nuuskierigheid op as hy ʼn geskenkpakkie kat-voet benader. Sy bottel met 100 love notes van my af pronk steeds op sy lessenaar. Hy sal dit nie erken nie, maar eintlik ‘treasure’ hy dit.

Blykbaar is jou hond op sy mees weerlooste wanneer hy aan die slaap raak. Die feit dat hy naby jou aan die slaap raak is ʼn intense teken van vertroue in jou. Hy voel veilig genoeg in jou teenwoordigheid. Nou verstaan ek goed hoekom my man sukkel om die eerste aand in ʼn vreemde plek sonder my aan die slaap te raak!

Hierdie laaste een het my aan die skaterlag! As straf vir my getergery word my voete gekielie tot ek my pad uit die stoei-greep uitskop. Wie sou kon dink manne en honde het soveel in gemeen?

  • Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen

    Marthinus en Bianca Steffen is vir die laaste sestien jaar getroud en steeds opgewonde daaroor. Hulle sal onomwonde erken dat hul nie perfek is nie, maar dat hul beter saam is, as apart. Hulle hou van laat-aand geselsies, koffie, lees, draf, saam reis en nuwe plekkies ontdek.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.