Wind van voor

by Blogger - Bianca Steffen / Apr 18, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 2184 mense.

Ons reis na die Kaap vir ‘n werksgeleentheid. Dis dieselfde naweek as die Argus. Ek wonder of daar enige mense in Pretoria agterbly? Dit lyk nie so nie. Hierdie is die perfekte teelaarde vir chaos.

Vriende laai ons by die lughawe af. Ons staan orals in lang toue. ‘n Oom skuur vir die derde keer aan my sonder om jammer te sê. My geduld laat my in die steek. Ek draai om en staar hom vierkantig in die oë. Hy glimlag terug asof hy niks op dees aarde aangevang het nie. Ek verduidelik die waarde van persoonlike ruimte en dat mens jammer sê as jy iemand anders stamp. As jy iemand anders drie keer stamp, sê jy minstens een keer jammer. Sy dogter ontplof intussen soos ‘n lang, onaktiewe vulkaan. Ek dink aan al die kommunikasie vaardighede wat nou handig te pas sal kom in hierdie situasie en ignoreer almal van hulle. Die feit dat ek nie op haar woede-uitbarsting reageer nie, laat die vulkaan nog meer lava spuug!

Ons sit in die vliegtuig, gereed om hierdie situasie agter ons te laat. Maar helaas, ‘n nuwe soort hel maak sy verskyning. ‘n Mamma met ‘n jong babatjie skuif agter ons in en die outjie oefen sy longe dat die biesies bewe! Die jong mannetjie voor ons vind ons geselskap baie meer interessant as sy pappa s’n en hang half oor die sitplek vir die hele vlug. Ons kry dit nou van voor en van agter! Uiteindelik arriveer ons in Kaapstad, maar die voertuigverhuringsmaatskappy het ons op ‘n vroeë Paaseier-skattejag na ons motor. Die diens is stadig en knorrig.

Na al die trauma van die dag kies ons koers na Bloubergstrand se kant. Ons wil iewers net vir die see staar en ons honger mae voed. Dit voel soos ‘n episode van Amazing Race waar ons al die clues mis en laaste by die wenstreep aankom. Die enigste plek waar ons spasie kry oor so naweek is ‘n pasta restaurant, waar die geraas oorverdowend is, die diens stadig en ons nou goed knorrig. Die kersie op die koek is toe ek gly op die vuil vloere, nouliks my balans herwin en vir die vermaak van vele toeriste sorg wat my nou oopmond aangaap.

Ek klim daardie aand in die bed en wil eintlik vir die res van die week met my kop onder die komberse wegkruip. My hart en ego voel broos. Ek voel moeg gespartel na vandag. My hart kies koers na Psalm 91:9-11: ‘Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak. Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.’

Voel of daardie engele op vakansie is, maar ek rus vanaand in daardie waarheid. Die volgende oggend hoor ons die Argus wedren is afgestel vir die eerste keer in sy bestaanstyd vanweë die windsterkte. Ek glo dit goed! Dit was ‘n magtige mission om net hier aan te kom. In sulke oomblikke wanneer ons die wind van voor af kry is dit al te maklik om moed op te gee. Ek wil gereeld rus in die wete dat Hy my veilige plek is. Wanneer die wind van voor af is, babas skree en restaurant-vloere vuil is, is ek nie alleen nie!

  • Blogger - Bianca Steffen

    Bianca Steffen is al ewig op reis. Kleintyd het sy gedroom om joernalis te wees, het toe in die regswêreld afgeskop en haarself as teoloog bekwaam. Sy het 'n passie vir opleiding en die ontwikkeling van mense se potensiaal. Sy is gelukkig getroud met Marthinus en die trotse mamma van twee Skotse terriërs, Coco en Fudge. As jy nog verder te wete wil kom van haar avonture, boeke en produkte gaan kyk gerus op www.biancasteffen.co.za.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA