Brusselse mossels

0
29
mossels.jpg

Genoeg vir 4

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

500 g vars, lewende mossels in die dop
50 ml water
50 ml wit asyn
50 ml droë witwyn
2 eetlepels sojasous
2 wortels, in dun repies gesny
2 selderystingels, gekap
5 ml growwe seesout
varsgemaalde swartpeper na smaak
halwe vars suurlemoen

METODE

1 Begin deur die mossels in die wasbak in vars water te dompel om hulle uit te spoel. Laat lê hulle ongeveer ’n uur lank voordat jy hulle weer in skoon water sit. Herhaal totdat daar geen seesand meer uitkom nie. Net voordat jy die laaste keer skoon water gebruik, skrop die vuilgoed van die buitekant van die skulpe af en knip die baard af.
2 Giet die water, asyn en wyn in ’n kastrol met ’n deksel wat goed seël. Voeg die sojasous, wortels, seldery, sout en peper by. Laat dit staan vir ongeveer 10 minute.
3 Verhit die sous vir die mossels. As die sous op die punt is om te begin kook, haal dit van die stoof af en voeg die mossels by.
4 Druk die suurlemoensap daaroor uit en voeg nog ’n bietjie varsgemaalde swartpeper by. Sit dit terug op die stoof en wag totdat dit begin kook. Sit die deksel op en laat dit presies 5 minute lank kook. Die sous sal boontoe borrel en die stoom sal die mossels laat oopgaan. Gooi dié wat nie oopgaan nie summier weg.

Wenk
Die korrekte manier om die gereg te eet is om jou eetgerei slegs as ondersteuning te gebruik. Kies ’n goeie, stewige mosseldop uit. Verwyder die vleis van dié mossel met die vurk wat voorsien is, maar sit dan die vurk eenkant neer. Gebruik die geskarnierde leë dop as ’n knyptang om die res van die mossels mee te eet. ’n Lepel kan aan die einde gebruik word om die sous mee op te skep nadat al die moules verorber is.