Burgers vir ’n gesinsete

beste burger

Die meeste mense is lief vir ’n burger. Bederf jouself, vriende en familie met hierdie heerlike geurige burgers.

Die allerbeste burger

Genoeg vir 6
Tyd: 30 minute

BESTANDDELE

Burger patties
2 snye heelgraanbrood, korsies verwyder en verkrummel
125 ml ongegeurde jogurt
10 ml mosterdpoeier
10 ml knoffel, fyngekap
skil van 1 suurlemoen, gerasper
1 kg binneboudmaalvleis
2 wiele fetakaas, gekrummel
sout en varsgemaalde swart peper, na smaak
200 g tamaties aan die rank
olyfolie
sout na smaak
6 ciabattas, gehalveer
’n groot hand vol vars roket, vir opdiening
rooi-ui, in dun skyfies gesny, vir opdiening
2 avokado’s, in kwarte gesny, vir opdiening

Skyfies
5-6 middelslag aartappels, in skyfies gesny
kanola-olie, vir diepbraai
soutvlokkies

METODE

1. Berei matige tot warm kole voor as jy die burgers oor die kole gaan braai
2. Vir die patties: Week die brood in die jogurt en meng dit met ’n vurk totdat die brood fyn en sag is. Voeg die mosterd, knoffel en suurlemoenskil by en meng. Plaas die maalvleis en feta in ’n groot mengbak, voeg die broodmengsel by en meng met ’n vurk. Geur na smaak. Moenie die maalvleis te veel meng nie.
3. Verdeel die maalvleismengsel in 6 patties. Verkoel die patties 10 minute.
4. Vir die skyfies: Verhit die olie tot ’n matige hitte en gooi ’n handjievol skyfies in. Diepbraai die skyfies in sarsies tot dit sag is. Haal uit die olie en dreineer op papierhanddoek.
5. Verhoog die hitte van die olie tot hoog en gooi die skyfies weer in sarsies in. Diepbraai die skyfies totdat goudbruin en bros. Dreineer op papierhanddoek en sprinkel die soutvlokkies oor.
6. As jy die patties oor die kole gaan braai, vryf elke patty met ’n bietjie olyfolie in en plaas direk oor die vuur. Wag 6-8 minute voordat jy die patty omdraai om te verseker dat dit nie breek nie.
7. As jy die patties in ’n pan vlakbraai, verhit 15 ml olyfolie en vlakbraai 3 patties op ’n slag 7 minute aan albei kante tot goudkleurig en gaar. Herhaal met die res van die patties.
8. Stel die oond op 200 °C . Plaas die tamaties op ’n bakplaat, besprinkel met olyfolie en geur met sout. Rooster die tamaties ongeveer 15-20 minute in die oond totdat dit begin blasies vorm. Plaas eenkant.
9. Maak nou die burger: Plaas ’n laag roket, uie, patty, geroosterde tamaties en avokado op die onderste deel van die broodrolletjie. Plaas die boonste deel van die broodrolletjie bo-op en sit voor saam met die skyfies.

lyn_3.png

Krummelvisburger met dille-mayonnaise

Genoeg vir 4
Tyd: 50 minute

BESTANDDELE

1 eier
100 ml melk
500 g (4) groot stokvisfilette
100 g gegeurde droë broodkrummels
100 ml goeie mayonnaise
45 ml dille, fyngekap
’n skeut suurlemoensap
4 rogbroodrolletjies of ciabattas
’n hand vol vars bronkors

METODE

1. Klits die eier en melk saam. Doop die skoon visfilette in die mengsel en bedek dan met die krummels. Plaas die filette vir 15 minute in die yskas sodat die krummels goed kan vaskleef.
2. Meng intussen die mayonnaise, dille en suurlemoensap. Verhit ’n bietjie olie vir diepbraai.
3. Diepbraai die vis ongeveer 5 minute of tot dit goudbruin is en maklik vlok. Dreineer op papierhanddoek.
4. Plaas bronkors op halwe broodrolletjie, plaas ’n visfilet bo-op en rond af met ’n rojale skep dille-mayonnaise bo-oor. Dit is heerlik saam met tuisgemaakte aartappelwiggies.

lyn_3.png

Hoendertikkaburger

Genoeg vir 4
Tyd: 25 minute

BESTANDDELE

Burger
2 hoenderborsies
30 ml olyf- of avokado-olie
4 ciabattas, liggies gerooster
1 rooi-ui, in dun skyfies gesny
’n hand vol slaaiblare

Marinade
125 ml Griekse jogurt
40 ml tikka-hoenderspeserye of invryfmengsel

Tzatziki
1 klein komkommer, gerasper
10 ml knoffel, fyngekap
125 ml Griekse jogurt

METODE

1. Sny elke hoenderborsie horisontaal in die helfte deur om 4 porsies te maak. Meng die jogurt en tikkaspeserye en vryf die hoender daarmee in. Marineer 10 minute.
2. Meng die komkommer, knoffel en jogurt. Geur en plaas eenkant.
3. Verhit ’n pan tot matig warm. Geur die hoender en braai in olie, 3 minute aan elke kant.
4. Verdeel die slaaiblare tussen die broodrolletjies. Plaas ’n hoenderstukkie, rooi-ui en ’n skeppie tzatziki op die rolletjie, bedek met ander helfte en sit voor.

lyn_3.png

Toebroodjies met repiesvleis

Genoeg vir 6
Tyd: 31/2 ure

BESTANDDELE

Borsstuk (brisket)
1 kg borsbraaistuk (beesvleis), bene verwyder
1 liter water
15 ml seesout
5 ml peperkorrels
5 ml heel koljandersaad
5 ml droë rissievlokkies (opsioneel)
1 heel kaneelstokkie
2 lourierblare (opsioneel)
45 ml heuning
5 ml heel naeltjies

Toebroodjie
goeie suurdeegbrood of broodrolletjies
mosterd
vars roket, vir opdiening
seesout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
wortels, in dun repies gesny, vir opdiening
sprietuie, in repies gesny, vir opdiening

Vinnige jogurtslaaisous
125 ml Griekse jogurt
30 ml mayonnaise
30 ml vars grasuie, fyngekap
’n skeut suurlemoensap
geurmiddels

METODE

1. Plaas die borsstuk in ’n groot bakskottel of aftrekselpot. Voeg die water en speserye by en bring tot kookpunt. Kook 15 minute, verlaag die hitte en laat 1 uur prut.
2. Plaas die bakskottel na ’n uur in ’n 180 °C oond vir nog 1½ uur of tot die vleis sag is.
3. Haal die skottel of pot uit die oond en laat afkoel. Wanneer afgekoel, trek die vleis met 2 vurke of jou vingerpunte in repies.
4. Meng ’n lepel of twee van die vloeistof wat oorgebly het met die vleisrepies of gebruik dit as ’n toebroodjiesous of in pasteivulsel.

Om toebroodjies te maak
1. Rooster die broodrolletjies in die oond.
2. Smeer die brood met mosterd en plaas die roket en baie vleisrepies bo-op.
3. Berei ’n vinnige jogurtslaaisous deur die Griekse jogurt met die mayonnaise, vars grasuie en ’n skeut suurlemoensap te meng. Geur goed.
4. Bedek die vleisrepies met die jogurtslaaisous en garneer met die wortels en sprietuie. Sit voor.

lyn_3.png

Panko-krummelsampioene met wasabi-mayonnaise

Genoeg vir 4-6
Tyd: 15 minute

BESTANDDELE

200 g gemengde vars Oosterse sampioene
60 g koekmeel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 groot eiers, liggies geklits
150 g panko-broodkrummels (beskikbaar by Oosterse supermarkte)
olie vir diepbraai

Wasabi-mayonnaise
100 g goeie mayonnaise
’n knippie fyn witpeper
20 ml wasabi pasta

lemmetjieskyfies, vir opdiening

METODE

1. Vee die sampioene met ’n klam vadoek af. Plaas die meel in ’n bak en geur. Klits die eiers liggies in ’n tweede bak en die broodkrummels in ’n derde bak.
2. Voeg die sampioene by die meel en skud sodat die meel die sampioene bedek. Skud die oortollige meel af. Doop die sampioene in die eier en dan in die broodkrummels. Herhaal met al die sampioene.
3. Verhit die olie in ’n diepvetbraaier en braai die sampioene 1-2 minute aan elke kant tot goudkleurig en bros.
4. Dreineer op ’n paperhand en geur met ’n bietjie sout.
5. Vir die mayonnaise: Meng die mayonnaise, peper en wasabi en giet in ’n opdienbak. Sit die sampioene voor saam met die wasabi-mayonnaise en vars lemmetjieskyfies.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test