Cordelia - “God weet wanneer ek ma moes word”

Cordelia

Na ’n miskraam ses jaar gelede verstaan die gospelsangeres nou hoekom sy nie toe reg was om ’n kleinding groot te maak nie.

Beskryf die oomblik toe Zavion in jou lewe gekom het

Cordelia Elke keer as ons vir ’n sonar gegaan het, het ek my verwonder aan God se grootheid, maar toe ek vir die eerste keer sy hartkloppie, sy handjies, teen my bors voel, het die wete van God se almagtigheid oor my gespoel.

Daardie eerste skree was die mooiste klank wat ek nog in my hele lewe gehoor het. Nou nog is dit vir my ’n simbool van lewe. Die trane het gevloei, maar van dankbaarheid. Dit was so fantasties dat hy gesond is en alles daar is.

Zavion se absolute afhanklikheid van my liefde en versorging het my laat besef hoe afhanklik ek ook van God is. Dit was soos ’n wedergeboorte vir my.

Ses jaar gelede het ’n sonar baie hartseer gebring...

Cordelia Dit was ’n doodgewone roetine-ondersoek. Daar was geen probleme, geen pyn... en toe is daar nie ʼn hartklop nie. Vir sekondes kon ek nie asemhaal nie. “Die sonar makeer iets,” het ek vir die dokter gesê.

Dit was iets wat ek nie wou, nie kon, aanvaar nie. Dit sou nie eers help om ’n ander dokter te raadpleeg nie, want daar was nie fout met die masjien nie. Ons dogtertjie was weg nadat ek haar vyf maande binne my kon voel. Net so, sonder rede of waarskuwing.

Dit was een van die ergste oomblikke van my lewe, dieselfde gevoel van magteloosheid en finaliteit as die dag toe my pa deur ’n motor doodgery is. My hande was afgekap. Niks kon haar terugbring nie.

Met watter emosies het jy geworstel ná die miskraam?

Cordelia Ek, ons, was stukkend. In die grond in. Daar is nie ’n ander manier om my gevoelens te beskryf nie. Vir lank kon ek nie glo dit het gebeur nie. Dit was asof ek in ’n waas van ongeloof was.

Om my op my loopbaan toe te spits om te vergeet, het nie regtig gehelp nie. Die tyd vir groei was nog nie verby nie.

Die sangbedryf is ’n mededingende wêreld en ek is nie van nature ’n besigheidsvrou nie. Vinnige en regte besluite, harde werk en toewyding was die enigste manier om te oorleef. Al hierdie vaardighede help my vandag om ’n beter ma te wees.

Hoe was jou verhouding met God tydens hierdie hartseer?

Cordelia Kwaad beslis, veral omdat ek as mens niks daaraan kon doen nie. Oor en oor vrae gevra. Met God geworstel: Hoekom? Waarom my laat swanger word, net om vyf maande later my dogtertjie te verloor? Hy weet hoe graag ek ma wou word.

Daar was beslis tye van bitterheid. Ek het lank gedink dit is my nie beskore om ’n kind te hê nie omdat dit nie uitgewerk het soos dit myns insiens moes nie.

Nou weet ek dis nie waar nie. Dit ís wat God vir my wou hê, maar op Sy tyd. Hy het nooit my hand gelos nie. Vir Sy kinders wens Hy niks slegs toe nie.

Het jy daaraan gedink om weer kinders te hê?

Cordelia Ek het nog nooit ophou dink aan my dogtertjie nie. Hoe sou sy gelyk het? Watter soort mens sou sy wees? Selfs met Zavion in my arms wonder ek oor haar, trouens, ’n deel van my sal altyd wonder.

Maar die vrees om weer deur so ’n verlies te gaan was te groot. Te traumaties. Ek het die gedagte aan kinders net weggeskuif en met my lewe probeer aangaan. Sonder my wete het die Here my in hierdie tyd begin voorberei op ’n tweede kans...

Mettertyd het Hy my geleer om weer op Hom te vertrou. Ek moes leer van tweede kanse, nuwe lewe en om waardering vir die lewe te hê.

Was jou swangerskap ’n verrassing na soveel jaar?

Cordelia Sjoe, ja, dit was ’n groot verrassing. Vir my was dit ’n uitgemaakte saak dat ek nooit ’n kind van my eie gaan hê nie, want as ’n mens so seerkry, kies jy soms om net die slegte te verwag sodat jy nie weer teleurgestel word nie.

Ek was opgewonde, maar versigtig opgewonde. Wat as die gebeure van ses jaar gelede hulle herhaal? Die vrees het beslis ’n uitwerking op my swangerskap gehad.

As ’n mens 25 is, dink jy jy het die wêreld se wysheid, maar ’n 31-jarige het tog meer lewenservaring. Ek weet volwassenheid, veral geestelike volwassenheid, word nie in ouderdom gemeet nie, maar my groeiproses in hierdie tyd was groot.

Waarom moes jy dan nou eers ’n mamma word?

Cordelia Ons almal wonder oor ons toekoms, maar vir my was dit ’n dieper soeke. Nie net oor identiteit nie, maar ook oor my lewensdoel.

Toe vertrou God Zavion aan my toe om ’n rol in sy lewe te speel. Nou maak die lewe net meer sin.

Daar was ook eers ’n paar lesse om te leer. Die miskraam was maar net een van ’n paar moeilike gebeure wat vir my voorgelê het om te trotseer. Daar was my ouma se dood en uit my egskeiding het ek geleer dat jy nie aanvaarding by ander hoef te kry as jy in jouself gelukkig is nie. Vir God is jy genoeg.

Het die manier waarop jy glo ook verander?

Cordelia Ek was nog altyd te bang om gospel te sing omdat ek gedink het ek is nie goed genoeg nie. Zavion het egter die hele manier waarop ek dink, bid en glo verander.

Net soos my liefde vir Zavion genoeg is, so het God vir my ’n talent gegee al is dit nie perfek nie.

Toe ’n ma en haar seun nou die dag ná ’n vertoning na my kom en die seun vir my sê hy sien Jesus in my, was ek verstom. Ek het dan niks gedoen nie.

Nou verstaan ek God gebruik ons soos ons is. Spesiale platforms en geleenthede is nie nodig om iets vir Sy koninkryk te doen nie.

Hoe ervaar jy die liefde tussen ma en kind?

Cordelia Toe ek swanger was en Zavion binne my beweeg het, het ek gedink dit is hoe groot my liefde vir hom is. Maar nou, as hy in my arms lê, met sy koppie teen my bors, sy handjies om my nek, die geluidjies wat hy maak...

Dit is ’n ongelooflike gevoel. Te groots om te beskryf, die besef dat hy myne is. Daardie ongelooflike empatie en geduld wat ek met hom het.

My siel is tevrede en ek is vol vrede. Ek is rustig ter wille van hierdie klein seuntjie vir wie ek net die beste wil hê. My lewe het verander. Soms is dit steeds moeilik om te glo dat dit regtig gebeur.

Is dit hoe jy jou dit voorgestel het?

Cordelia Vir my was ’n ma se liefde gelyk aan die liefde wat my biologiese ma vir my gehad het om my aan ander ouers toe te vertrou sodat ek ’n kans op ’n beter toekoms kon hê.

Nou weet ek dat my liefde vir Zavion so groot is dat ek my lewe vir hom sal gee. Enigiets vir sy geluk soos God Sy Seun vir die wêreld gegee het.

Hierdie liefde vir my seun het my ’n kykie gegee in hoe lief God my as Sy dogter het. My verhouding met Hom het ’n ander dimensie gekry. Dis asof ek die diepte van die Here se genade nou vir die eerste keer ten volle begryp.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Website Security Test