Dít maak ’n sakevrou suksesvol

Elke sakevrou het ’n paar “geheime” as dit by sukses kom. Colette Kotze van Filorga, verklap haar eie.

Ek is toevallig in my studentejare aan Filorga bekendgestel en het ’n dokter raakgeloop wat die reeks in haar praktyk gebruik het. Sy het gesê dat die maatskappy wat dit invoer, op soek was na ’n verteenwoordiger. Ek het daar begin en vordering gemaak. Dis nege jaar later en ek is nog steeds by die maatskappy en absoluut verlief op my werk!

Dit bly ’n produk wat regtig werk. As ’n verbruiker nie kan sien die produk werk nie, gaan hulle eerder ’n ander soort kies. Filorga in Frankryk is gedurig besig met navorsing en maak produkte met nuwe bestanddele. Die persone wat die maatskappy verteenwoordig, is ook baie belangrik. Die verbruiker moet weet hulle kan op die produkshuis se diens staatmaak.
Ek is vasberade dat ons as ’n vooraanstaande maatskappy deur skoonheidsalonne en estetiese dokters erken moet word. Ek was nog altyd iemand wat deurdruk met ’n projek.
Vasberadenheid is nie aangebore nie, jy kan dit aanleer. Atletiek op laerskool het my die meeste daarvan geleer. Dit was baie harde werk en volgehoue oefening, maar ek is uiteindelik na die Suid-Afrikaanse kampioenskap toe met hekkies.

Party dae voel ek nie soos ’n baas nie. Ek is ’n gewone mens. My man spot altyd dat ek met my werk sou getrou het as ek kon! My personeel moet kan sien dat ek ’n passie vir my werk het. Dit is duidelik wanneer ek oor nuwe (en bestaande) produkte praat dat ek baie passievol is oor ons produkte en behandelings.

Dit is moeilik om te delegeer as jy perfeksionisties is. Ek het altyd self met die groothandelaars oor Filorga gekommunikeer en daar is baie administrasiewerk betrokke. Nou het ek dit aan ’n bekwame dame gegee om te hanteer. Ek verkies dit nog om byvoorbeeld enigiets met bemarking self te doen, soos pamflette en webwerf-advertensies, juis omdat ek dit baie geniet.
Ek is seweuur in die oggend al op kantoor en fokus ’n volle dag net op my werk tot ek vieruur huis toe gaan. My persoonlike lewe kom ná werkstyd, wanneer ek tyd maak om te ontspan, of dit nou ’n gimsessie of ’n behandeling by die haarkapper is. Daarna is dit gesinstyd!

Die balans word versteur as ek kongresse bywoon, gewoonlik drie ’n jaar. Dit is belangrik om van nuwe produkte, nuwe tegnieke en nuwe behandelings te hoor asook elke produk se bemarkingstrategie. Dit verg baie lang ure se konsentrasie, maar ’n goeie ondersteuningsnetwerk maak ’n sakevrou suksesvol! My vennoot help veral met finansiële aspekte en groot besluite.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test