Die blinderm, die eiland, en die krag van gebed

“Mamma!” roep ‘n flou stemmetjie uit Prinses se kamer. Met skrefiesoë vind ek die tyd op my foon. Dis 02:00. Maandagoggend.

Nog slingerend van die slaap suiker ek by Prinses se kamer in. “My maag pyn.” Gebed en Buscopan later kruip ek terug agter manlief se rug in. “Mamma!” Dis 05h00. Steeds Maandagoggend. “My maag pyn verskriklik. En ek is nou naar ook.” Ek tel die ure op my vingers. “Ons kan nog niks vir die maagpyn gee nie, Patroon. Maar Mamma bring ‘n naarpil.” Ek prewel weer ‘n gebed, met ‘n kop wat die oorsake fynkammend probeer uitsnuffel. Mamma-diagnose: Maagkiem. Ons worstel deur die Maandag met maagpyn en naarheid. Ons droom solank oor die res van die skoolvakansie wat sal moet opmaak vir die verlore dag.

Dinsdagoggend voel Prinses beter en herbou haar hele Lego-stad. Verlig kloek ek om haar, my denkbeeldige verpleegster-jassie nog nie heeltemal weggepak nie. My hand kuier kort-kort op haar voorkop en ek dra Energade en ryskoekies aan. Laatmiddag tref die maagpyn Prinses skielik met ‘n uitklophou. Sy vou dubbeld van die pyn, rol kreunend op die bed rond. Beelde van ‘n opgepofte dermpie in ‘n glasbottel langs my hospitaalbed flits voor my verby. En ek onthou die pyn. O daardie pyn onthou ek nog 30 jaar later. Ek bel manlief dadelik – hy behoort al op pad huis toe te wees van die werk af. Hy swiep tien minute later by die voordeur in. Ons laai ‘n onwillige, maar kan-nie-stry-nie-want-dit-pyn-te-veel Prinses in Pappa se koets, gewapen met n sak boeke, ‘n trui en my foonlaaier. Ongelukkig net nie op pad na ‘n glansryke bal toe nie.

Die hospitaalhande is knap en deeglik. Prinses is op n drip, nog krullend, maar stabiel. Die dokter frons oor die simptome. Blindederm erg onder verdenking, maar sê ons kan vroegoggend ‘n sonar neem. Prinses word opgeneem en die pyn gemonitor deur die nag. Sou iets vererger, is sy in goeie sorg en die chirurg is reeds op bystand. Chirurg!? Ag tog, my hart klop in my keel. Kan dit asseblief maar liewers ‘n maagkiem wees, skommel dit in my bekommerde gedagtes rond.

‘n Paar uur later slaap Prinses soos ‘n engeltjie hier langs my. Gesiggie vredevol met geen spore van pyn nie. Ek skuifel rond op my hospitaal-slaapbank. Die lê wil nie kom nie. Die slaap nog minder. Ek lees weer al die sterkte-boodskappies op my foon van ons biddende vertrouelinge. Die weermag-linie wat ons sterk maak as ons swak is. En ek mis my man wat nou in die nanag-ure by ‘n donker huis aankom. Alleen, boonop met sy werksklere vir môre ongestryk. (Sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy was skottelgoed en vou wasgoed op. Maar ek weet sy een heimlike, minder gunsteling huistakie, is stryk.) Ek mis my ma wat ver woon en nie hier kan insweef om my te pamperlang of ‘n warm bord kookkos op te tower nie. En ek besef weer hoe nodig ons mensdom mekaar het. Hoe ons mekaar se arms moet oplig as dit lam raak.

Gewoonlik sê ek graag as die lewe se taai klappe my duiselig laat, dat ek graag op ‘n verlate eiland wil gaan bly. Stoksielalleen met ‘n pynappel en ‘n kokosneutdrankie. (Na verlede jaar se Musiekblyspel, Esther –  A Modern Musical wat ons vervaardig en op die planke gesit het, spot my boetie en sê ek sal net ‘n week daar uithou voor ek al die kannibale leer dans en sing.) Maar toe lees ek nou die dag van die dapper sendeling, John Chau wat die aggressiewe Sentinel-mense op ‘n verlate eiland, regs van Indië, probeer bereik het met die Goeie Nuus. En hoe hy ‘n wreedaardige dood moes sterf slegs die tweede keer wat hy na hulle toe geswem het. Met ‘n pyl en boog. Die eerste pyl die vorige dag was nie noodlottig nie omdat dit die waterbestande Bybel teen sy lyf getref het. Maar toe gaan hy weer terug. Vasberade en dapper, met ‘n Doel voor oë. Tot die dood toe.

So nadat ek die storie tranerig gelees het, is ek skielik minder ywerig om ‘n verlate eiland te besoek. Behalwe dat ek graag nog lank wil lewe om die werk hier te doen wat God vir my uitgekies het (met ‘n groot verligting dat God my nog nie na so ‘n gevaarlike eiland toe geroep het vir sendingwerk nie), moet ek erken ek het tog mense nodig. En ek lê op my hospitaalbedjie (as mens dit in dieselfde groep as bedmeubels kan kategoriseer…) en bid met ‘n warm hart ‘n dankgebed vir ons kosbare bidders en ondersteuningsnetwerk. Ons naby-mense. Ons vegters. Ek voél hul gebed. My hart is rustig. Ek sién hul gebed. Ons Prinses slaap onverstoord dwarsdeur al die vreemde hospitaalgeluide.

Die sonar is normaal en ‘n x-straal wys niks anders ‘n pragtige gesonde kinderlyfie nie. Als volmaak en perfek op hul plek. Prinses se wange het weer kleur en sy peusel selfs aan die hospitaalkossies, eet al die roomyspoeding smaaklik op. Alle pyne en blindederm-gevaar vergete.

Hoe goed is die Here! Die gebed van gelowiges het ‘n kragtige uitwerking. Ons kom die volgende dag laataand vanaf die hospitaal by die huis aan, na al die laaste ondersoeke en prosedures. My selfoon klingel aanhoudend met blydskap-boodskappe van die bidders om ons tuiskomsvreugde te vier. Voetjies die kat wag ons spinnend by die voordeur in. En in die posbus lê ‘n pakkie tuisgemaakte sjokolade-hopies en ‘n briefie vir Prinses. Van ‘n maatjie en ‘n mamma wat onthou het ons oumas woon ver.

My hart sing net daar dankie. Vir ‘n gesonde blindederm, dat ek nie op die oomblik op ‘n verlate eiland woon nie én vir die krag van gebed.

Jakobus 5:16 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.

Vorige artikelWen een van twee CMP-geskenkpakke ter waarde van R500 elk!
Volgende artikelLag is ‘n talent … of is dit ‘n vaardigheid?
Blogger - Halrika Breytenbach
Halrika Breytenbach is ‘n kommunikasie-konsultant, vryskut-joernalis en stigter van die musiekbediening, Halrika Music Ministries. Met ervaring van die korporatiewe wêreld én bediening, is sy passievol oor beide wêrelde met die wete dat God Sy arbeiders oral nodig het – in die sekulêre bedryf en in die kerk. Sy glo daar is één Koninkryk waarvoor ons onsself beywer, met één liggaam wat dit saam moet doen. Sy is veral ook passievol daaroor dat vrouens moet verstaan wat hulle ware identiteit in Jesus Chistus is, met ‘n dieper besef van hul roeping en skeppingsdoel. Sy tree gereeld as spreker en musikant op by Damesoggende en haar bediening bied self ook Vrouekampe aan. Sy en haar man bied ook kampe vir paartjies aan wat fokus op aanbidding en intimiteit. Haar debuut-album, Asem, is in 2013 vrygestel met Purified haar nuuste album in 2018. Halrika is 14 jaar getroud met haar “spanmaat Faanman” en mamma vir ‘n 9-jarige Prinses. Besoek haar webwerf: www.halrikamusicministries.com.