Die dowwe spieël

Die selfsugtigheid van kinders. Enige ma sal boeke daaroor kan skryf!

As jong, onervare, naweek-mamma het my eie geduld soms aan baie fyn draatjies gehang wanneer dit hierby kom. Na agt jaar se loopbaanbou was ek al goed ingeburger in ‘n korporatiewe wêreld waar sekere algemene reëls geld. Menslikheidsreëls, kan mens dit seker noem.

Maar toe ontdek ek die leefwêreld van kinders. Kleuters, eintlik maar. Daardie plek waar hulle net vir hulself bestaan en hulle eie gratifikasie.

En dit het soms op my laaste senuwee gewerk. Want ek wou hulle laat insien, laat verstaan, dat dit nie so werk nie. Dat dit onaanvaarbaar is om net aan jouself en jou eie gemak en voorkeure te dink. Dat dit belangrik is om ander mense in ag te neem.

Totdat ek eendag na ‘n kindersielkundige op RSG geluister het. Volgens die mense met die stofjaste en dik brille, ontwikkel kinders die kapasiteit vir en begrip van selfsug teenoor onselfsugtige optrede eers so rondom nege jaar oud.

Nou ja. My gepreek en gekla en gepleit het duidelik op dowe ore geval. Want ‘n kind van sewe en ‘n kind van drie het doodeenvoudig nog nie die breinfunksie ontwikkel om die kompleksiteit van onselfsugtige optrede te verstaan en aan deel te neem nie. En ek kon hulle nie daaroor kwalik neem nie.

Ons is nou net bietjie meer as twee weke Anderlanders. Vroeër hierdie week lees ek ‘n onstellend beskrywende, hartsverskeurende artikel oor nog ‘n plaasmoord in my hartsland en ek besef: My hart sal altyd breek vir wat joune breek, Suid-Afrika.

En ek dink weer aan selfsugtigheid. Hoe eie gewin en eie mag en krag en die “eie ek” my land op sy knieë het.
Amper soos in Ester se tyd.

Haman se selfsugtige soeke na roem en rykdom het so byna die uitwissing van ‘n hele aardse volk beteken. En nie enige volk nie: Die uitgesoekte Volk van die Here.

“Op 17 April het Haman al die koning se skrywers laat kom en briewe laat skryf vir al die koning se verteenwoordigers, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk. Hierdie briewe was in hulle eie taal en skrif sodat hulle dit kon verstaan…
… Die briewe is toe deur boodskappers na elke provinsie toe geneem met die opdrag om al die Jode uit te roei, oud en jonk, vroue en kinders, almal voor die voet.
Hierdie slagting is beplan vir 7 Maart die volgende jaar.”
Ester 3:12 Die Boodskap

Maar die Here sluimer nie, en Hy slaap nie, leer die Psalmdigter ons. Hy ontmasker vir Haman en laat swaai hom aan die einste galg wat hy vir die onskuldige Mordegai laat oprig het. Maar terwyl Haman daar hang, is die dodelike moordbriewe reeds die land ingestuur.

As ek nou die skrywer van ‘n loket-treffer film was, sou dit nou die oomblik wees waarop die Here Sy engele stuur om elke liewe brief, in elke liewe papirusrolhouer, aan te raak sodat dit in ‘n bondeltjie stofpoeier verander.

Of die boodskappers almal met blindheid en stomheid slaan, sodat hulle teatraal in hulle taak misluk.

Maar dit gebeur nie.

Die geweldige gevaar wat op die Jode gewag het, verdwyn nie oornag nie.
Maar in die plek daarvan, reik God ‘n nuwe dekreet uit:

“Mordegai het die briewe in die naam van die koning geskryf en dit met sy seëlring verseël.
Daarna het hy die briewe met boodskappers uitgestuur wat met vinnige perde uit die koning se stalle gery het. Volgens die briewe het die koning aan die Jode in al die stede die reg gegee om saam te staan en hulleself te verdedig.”
Ester 8:10 Die Boodskap

Ons hoef nie maar net te gaan lê omdat hierdie gevaar in Suid-Afrika dreig om ons uit te wis nie. Ons mag onsself verdedig.

Maar ons wapens is nie van hierdie wêreld nie.

En laat ons ook nie versuim om te bid vir die wat
dink soos ‘n kind,
praat soos ‘n kind,
redeneer soos ‘n kind
nie.

Daar was ‘n tyd toe dit ons ook was.

Jou temalied vir die week: Let the waters rise

Vorige artikelDapper om ander aan te moedig
Volgende artikelPresident Ramaphosa verduidelik
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!