Die eerste stap tot ’n voller beursie

Om jou geld te beskerm kan so eenvoudig wees soos om nie jou handsak op enige plek neer te sit nie of om nie te veel te betaal nie.

Jong man het eenkeer ’n boer besoek en probeer om ’n rekenaarprogram aan hom te verkwansel. Hy het vir die boer gesê hy hoef nooit weer te werk nie, hy kan net elke dag voor die rekenaar sit en die aandele dophou. Die wyse ou boer het toe vir die man gevra hoekom hy dit dan nie self doen nie, in plaas van om die program aan ander mense te probeer verkoop!

Weet presies wat jy met jou geld gaan doen

Jy het dalk ’n plan om meer geld te verdien – jy wil verder studeer. As jy geld in ’n nuwe kwalifikasie wil belê, vind eers uit presies hoe dit jou gaan help om meer te verdien. Gestel jy wil ’n prokureur word. Vind dan uit wat dit jou gaan kos om te kwalifiseer en presies hoeveel geld prokureurs verdien. Hoeveel kos dit om deftig aan te trek, die nodige versekering te hê en ’n kantoor te huur?

Miskien het jy ’n behoefte vir ’n nuwe produk raakgesien. Doen dan eers navorsing om vas te stel hoeveel dit gaan kos om ’n prototipe te laat maak. Jy kan dalk jou spaargeld daarvoor gebruik of vir jou familie en vriende vra om daarin te belê.

Sê nou jy wil drama studeer en dan dramaklasse aanbied. Nou ja, tensy jy regtig ’n onderwyser wil word, is dit nie ’n belegging nie. Skryf in vir die pret of om meer te leer, maar moenie al jou swaarverdiende spaargeld daarop uitgee nie.

[MENTORKLAS VIDEO] Kry ’n plan vir jou geld

Doen behoorlik navorsing voor jy geld uitgee

Doen navorsing om jou belegging so veilig moontlik te hou en maak seker jy verstaan die risiko’s. Onthou, risikovrye beleggings sal jou nie vinnig ryk maak nie!

Besluit of daar iets is wat die verkoopspersoon jou dalk nie vertel nie. Dis maklik om ’n glansbrosjure saam te stel en ’n spoggerige webtuiste te ontwerp – iemand kan dit sommer in ’n kamer sit en doen. En ’n posbus en antwoordmasjien kan teen ’n minimale bedrag gehuur word.

Die brosjure bevat dalk ’n magdom grafieke met indrukwekkende syfers, maar dit is moeilik om vas te stel of hierdie syfers fiktief is of nie, aangesien daar nie altyd verwysings is nie.

Jy móét egter dieper delf – dit wys ook sommer dat jy minder beïnvloedbaar is as die gemiddelde kliënt en jy sal van die begin af met respek behandel word. Moenie in ’n blik gedruk word om halsoorkop ’n besluit te neem nie.

Begin klein sodat jy nie te veel verloor nie

Jy kan aanvanklik ’n klein bedrag belê en eers kyk hoe dit gaan voor jy meer geld insit. Onthou, as iets te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik! Baie Suid-Afrikaners is al die afgelope tien jaar lelik bedrieg.

Dit is so dat as jy jou geld in die vuur gooi, jy alles sal verloor. Maar as jy daardie geld onder jou matras bêre, gaan jy ook verloor – as dit nie gesteel word nie, sal jy rente en die kans om te leer verbeur.

Wanneer jy geld verloor met ’n belegging wat jy tog vooraf goed nagevors het, kan jy baie leer deur te probeer agterkom wat presies skeefgeloop het en hoekom. Jy verloor dus nie heeltemal nie, want volgende keer sal jy beslis nie weer dieselfde fout maak nie.

Wouter Snyman – Finansies, besigheid en entrepreneurskap

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.