Die geheim van byna 30 jaar se sukses

Lydia Winchester is vir amper 30 jaar lank al ons land se top kunstenaars se publisiteitsbeampte. Dís haar geheim vir sukses.

In die tipe beroep wat ons het, kan jy nie ’n lyn trek nie. Jy moet altyd professioneel wees. Natuurlik moet jy ook met jou kunstenaars bond. Ek glo daaraan. Hoe kan ek, as publisiteitsbeampte, Gerhard Steyn se album aan die media gaan verkoop as ek nie van hom hou nie? Jy moet in die produk glo, anders kom jou oneerlikheid tog een of ander tyd aan die lig.

Maak 29 jaar in die bedryf my suksesvol? Hoe gaan ek weet? Al wat ek weet, is dat ek na al die jare nog geniet wat ek doen. Danie Botha en Jurie Els is deur my hande. Ek het met Schuster én met Gé gewerk. Elke kunstenaar is my trots. Maar as ’n kunstenaar wat ek bemark die dag ’n goue album kry, dan is ek die trotsste.

Boet Pretorius, die man met die goue oor, was ’n goeie leermeester vir my in die beginjare. Die eerste keer wat ek by een van die ateljees ingestap het, onthou ek nou nog. Ek het nie een woord verstaan as hulle begin praat het van goed soos tweeduimbande nie. Maar dit was alles vir my magic.

As ek my posstukke vir die media uitstuur, het ek een groot geheim. Ek sit nie adresplakkers op nie, maar adresseer elke koevert met my eie hand. Dit neem baie tyd, maar dis net daardie persoonlike touch. En die belangrikste ding as iemand vir jou iets gedoen het, is net daardie klein dankie. Sê net dankie, dit kos jou niks.

Die beste manier om ’n goeie reputasie te bou is eerlikheid, absolute eerlikheid. Moet nooit, ooit voorgee om te wees wat jy nie is nie. Almal weet ek is baie uitgesproke en ek hou van my glas wyn, ek maak nie ’n geheim daarvan nie. As iemand iets verkeerds gedoen het, sal ek dadelik daaroor praat. Ek hou nie van goed wegsteek nie.

Netwerk is ongelooflik belangrik. Jy moet gereeld gehoor word, jy moet gesien word. En ek maak ’n punt daarvan, maar ek dink dat dit saam met my tipe persoonlikheid kom. Jy kan vir mense gaan vra wat my ken, ek het ’n baie dinamiese persoonlikheid. Ek is ’n go-getter, ek vat nie maklik nee vir ’n antwoord nie.

Ek probeer voortdurend om vir my medemens iets te beteken. Ek werk immers met mense. Dit beteken ek moet mense tevrede stel en ek probeer dit regtig doen. Die eerste keer wat ek stoksielalleen SAUK toe moes gaan vir bemarking, was ek doodbang om te verdwaal in daardie groot geboue. Maar ek probeer altyd net my beste vir my kunstenaars. Hoekom anders gebruik hulle my?

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test