Die koning-se-kat-se-snorbaard

Liewe Persoon,

In my drome laat ek koppe draai, dra ek ‘n two piece baaikostuum én besit ek my eie spookasem masjien. My lang goue lokke blink in die son en ek loop selfversekerd met my rooi Jimmy Choos in Sandton rond. O, en in droomland hou ek skemerpartytjies met gaste soos Allan Donald, Jolene Strauss, Ryk Neethling, Jeanie D, Victor Matfield en sommer ‘n spul ander bekendes.

As my oorle’ Ouma Cielie nou van hierdie altered universe van my te hore sou kom, sou sy sê dat ek my dié gewildheid beslis (te dik) aantrek. Kompleet soos die koning-se-kat-se-snorbaard! In kort: myself voordoen as die aantreklike soort…

Ek wou nog altyd gewild gewees het – soos Carike Keuzenkamp toe sy as Joolkoningin met die treffer “Timothy” sukses gehad het. Soos Annelien Kriel-Kerzner-Tucker-Bacon wat in die 70’s die Mej Wêreldkroon gedra het. Soos Penny Parker wat destyds MagGyver se true love op die kleinkassie was. Maar roem was nie vir my beskore nie… ek dink dis waar daai ding van beauty and brains vandaan kom. Mens kan nie alles wil hê nie!

Kleintyd as ons ge-moan het oor ons skoene, dan het Ma altyd gesê: “…onthou daar is kinders sonder voete!” Dieselfde het gegeld vir blomkool / skaappens / kaiings en kwepers: “Daar is kinders wat niks het om te eet nie!”

Gewildheid is ook nie altyd wat dit voorgee om te wees nie… vra maar vir die arme oorle’ prinses Di. Ek het al gehoor mense sê: “Hou jou lyf toffie, en almal gaan aan jou lek!” En, liewe Persoon, ek dink almal behoort hierdie stukkie wysheid kop-toe-vat. Mense hou nie van ‘n show-off nie.

Onthou jy daardie keer toe my skoen se hak tussen die plaveiselstene voor die hoofgebou vasgehaak het? Onthou jy wat het gebeur? Nadat ek uit my skoen getrap het (wat toe reeds vasgesit het), wou ek mos ewe cool and calm net terugloop, my voet insteek en verder loop. Ek het amper my enkel geswik – so diep was daai hak ingetrap. Nee. Ek moes maar hande-viervoet neerplof en met albei my hande die skoen uit stoei. En daar gaat ek… my een hak mors-af, my knieë se velle weggeval en my selfbeeld na die maan.

Onthou jy, dit was met die Akademiese Opening… en almal het my gesien!