Die vele kante van Moedersdag

Moedersdag word elke jaar op die tweede Sondag in Mei gevier. Op hierdie dag word mammas bederf met selfgemaakte kaartjies van kleuters en vele pogings om ‘n eetbare ontbyt aanmekaar te slaan van ouer kinders.

Die winkels en restaurante herinner jou om Moedersdaggeskenke te koop en in baie huise is daar groot opgewondenheid om die dag te vier.

Hierdie dag het egter ook sy heimwee kant want elke gesin en familie moes al êrens langs die pad totsiens sê aan oumas, grootjies en moeders. Hoe graag sou jy nie weer die foon wou optel en haar stem hoor nie? Of by die hek indraai en haar sien waar sy op die stoep staan en wag vir jou nie? Tog, is hierdie hartseer op Moedersdag nie ondraagbaar swaar nie, want daar is altyd herinneringe en die wete dat jy haar tradisies, waardes en selfs sêgoed kan voortsit.

Moedersdag kan ook in een van die groot eensaam dae van die jaar ontaard vir vroue wie se kinders en kleinkinders nie by hulle kan wees nie. Dit kan ‘n amper onuithoubare dag wees vir vroue wie kinders aan die dood moes afstaan en vir vroue wat nie kinders kan hê nie, kan dit elke jaar van vooraf wonde oopkrap.

My hart gaan uit na elkeen wat Moedersdag moeilik vind. Vir julle wil ek sê, vat die dag soos dit kom, probeer om uit te reik na ander, en hou moed die dag sal verbygaan. Vir die van julle wat uitsien na Moedersdag wil ek sê, vat die dag soos dit kom, probeer om uit te reik na ander en geniet elke oomblik want die dag sal ook verbygaan.

Onthou om dankie te sê vir elke vrou wat ‘n rol in jou lewe vertolk, van jou kollega wat raad kan bied om tieners te hanteer tot by die tannie in die gebedsgroepie wat altyd weet wanneer jy ‘n ekstra drukkie nodig het. So het ons tog almal baie moeders en is elke vrou ‘n ma vir baie!

Vorige artikelJou visier gemik op…
Volgende artikel[VIDEO] Leef met ’n verwagting
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.