Dis tyd om weer te begin speel!

Kleintyd het sy ure omgespeel, onthou Amore Bekker. Toe besluit sy om weer die kind in haar vrye teuels te gee ...

Ek is eenkeer saam met Chrismarie Bakker na ’n laerskool in Johannesburg. Sy is ’n kinderberader wat spelterapie gebruik met kinders met gedrags- of emosionele probleme. So speel-speel in die sandput verklap hulle onderbewussyn hoe dit met hulle gaan.

Volgens Chrismarie het kinders nog nie die emosionele woordeskat om hulle pyn te verwoord nie, en om te speel is ’n natuurlike en selfgenesende proses. Maar sy vertel ook dat kinders al hoe moeiliker net spontaan speel – te veel rekenaarspeletjies en TV.

Toe wonder ek: Wanneer laas het ék gespeel? Weet ek nog hoe? Waar is my binnekind? Ons almal het mos ’n kind binne-in ons, ’n lewendige, vrolike, maar soms ook hartseer klein bondeltjie wat stoei om uit te kom.

Het jy geweet jou binnekind stuur die hele tyd boodskappe aan jou? Dis nogal ironies, maar sodra ek soos ’n rebelse tiener begin optree, weet ek daardie kleintjie soek lug. Deesdae het ek ook ’n behoefte om te dans. Om sommer net op ’n sorgvrye, los manier my lyf te swaai op Queen se “I want to break freeeeeee!”

Het jy al ooit gewonder hoekom plastiese chirurgie, Botox-inspuitings en laserterapie sulke florerende bedrywe is? Dis eenvoudig. Ons het te veel fronsplooie, want ons speel te min. Jy weet mos wat sê hulle: Ons hou nie op met speel omdat ons oud is nie, ons word oud omdat ons ophou speel.

Ek het besluit ek gaan daardie klein dogtertjie laat uitkom. Eers moes ek natuurlik my binnekind ’n naam gee, en jammer, dis mý geheim! Ek het ook ’n kiekie van my as klein dogtertjie opgeplak – nogal een waarvan ek nie so baie hou nie. Ek het besef dis juis daardie dogtertjie wat nou my aandag nodig het.

Toe zoem ek in op my sintuie. Onthou jy die reuk van toffieappel en gekookte kondensmelk, en die tekstuur van spookasem? My gunstelinge was Niknaks en sorbet. Loop koop weer daardie lekkergoed van jou kleintyd! Jou reuksintuig is jou mees primitiewe sintuig, en dit bring onmiddellik al die ou lekkertes terug.

Toe doen ek al die lawwe kindergoed. Ek loop kaalvoet, rol by ’n grasheuwel en duin af, en slaan ’n verspotte bollemakiesie. Hier wil ek jou net waarsku: Wees maar versigtig, my nek was vir drie dae na die tyd styf! Maar my lyf was mal oor die rondomtalie.

En ek begin kliphard sing. The Sound of Music se treffers, die een na die ander: “Do, re, mi, do re mi...” en toe sommer ook “Iemand het ’n lappop ...”

Ek het altyd gewonder wat my doel in die lewe is. En ek was so verlig toe ek uitvind dat my klein dogtertjie net wil eet en praat, dan is sy op haar gelukkigste. Dit is my doel en dit pas my uitstekend. Gee daar nog ’n stuk koek aan, asseblief!

Vroue kan soms baie ernstig wees. Dalk moet ons by die manne gaan leer. Ons dink hulle is selfsugtig as hulle naweke net hulle eie goed wil doen, soos motorfiets ry, kampeer of gholf speel, maar dit is hulle manier om in kontak te kom met die seuntjie in hulle binneste. Hulle hou mos nooit eintlik op met speel nie, hulle speelgoed word net duurder.

Dit maak vir my al hoe meer sin dat elke volwasse, verantwoordelike gedagte iewers as ’n plooi eindig. Ontspan ’n slag en loop haal daardie lappop van die ashoop af!

En as jy die dogtertjie gekry het, tel haar op jou skoot, hou haar styf vas en sê hoe lief jy haar het. Onthou, dit is nooit te laat om ’n gelukkige kinderlewe te hê nie.

 

Website Security Test