Dít inspireer my! (Elizma Theron)

Elizma Theron

ELKE BESIGE VROU MOET TEN MINSTE…
een keer ’n maand haarself bederf met iets lekkers soos ’n fliek, uiteet of spa-sessie. Die ontspanning en alleenwees met my eie gedagtes, maak my beslis ’n beter vrou en ma.

EK IS OP MY HEEL GELUKKIGSTE…
wanneer ek by my man, Nico, en kinders kan wees, en die selfone in die kas kan los! In ons gejaagde lewe waar almal heeltyd aanlyn is, gaan ’n dieper konneksie met mekaar maklik verlore.

DIE HEEL BESTE RAAD…
wat ek al ooit gekry het, is: Doen wat jy kan, dan sal die Here doen wat jy nie kan nie. Die pad na enige bestemming begin met die eerste tree.

MY GROOTSTE LESSE IN DIE LEWE…
word geleer by my man. Nico is die hardwerkendste mens wat ek ken. Hy weet nie wat dit beteken om tou op te gooi nie. Hy is so ’n groot voorbeeld en inspirasie.

WAT EK WAARDEER VAN MY KINDERS…
is dat hulle my leer om weer die klein goedjies in die lewe raak te sien. En by hulle is daar altyd rede om uit jou maag uit te lag van lekkerkry.

MY LEKKERSTE BEDERF IS…
om iewers in die bos te wees met ’n sonsondergang, ’n glasie wyn in die hand en my hartsmense wat die oomblik saam met my geniet.

DIE BESTE RAAD WAT EK…
aan my jonger self sou gee is om geduldig te wees en te wag vir die regte ding op die regte tyd. Geloof beteken om ook geloof in Sy perfekte tydsberekening te hê.

MY GUNSTELINGTYD VAN DIE DAG…
is saans, as die kinders klaar gebad het, en ons gesin net lekker saam kan ontspan en lag en gesels oor wat die dag gebeur het.