Donker help om die lig te waardeer!

142

Ons hou die goeie tye in ons sak, maar die slegte tye in ons hart. Almal van ons moet leer om mislukkings te hanteer.

Die lewe is vol uitdagings. Om lig werklik te kan waardeer, moet jy die duisternis kan sien en voel in jou lewe.

Hoe jy dink bepaal of jy gaan lê en of jy opstaan

Almal van ons beleef duister oomblikke in die lewe Onthou: Alles is tydelik, dit gaan verby! Wanneer ’n mens opstaan nadat jy neergeval het en uiteindelik die oorwinning behaal proe jy die soet smaak van lewe!

Louis L’Amour, beskryf in een van sy boeke ’n gesprek tussen ’n cowboy en ’n Indiaan. Die Indiaan sê vir die cowboy: “If I can ask God one last thing, I’ll ask Him to give me a big enemy.”

Die cowboy sê: “Big enemy? But a big enemy can kill you!” Die Indiaan antwoord: “Yes, I know, but without a big enemy I’ll grow fat and weak.”

Die cowboy vra hom toe: “Why don’t you just choose an obstacle or a challenge?” Die Indiaan antwoord hom: “You, you can choose obstacle or challenge, I choose enemy.” Duidelik verstaan die Indiaan dat uitdagings jou sterker maak.

Mislukkings maak die soet smaak van wen lekker

Weet jy waarna jy op soek is in jou lewe? Gaan jou lewe oor hoe “maklik” dinge vir jou is, of is die rykdom van die lewe dalk eerder verskuil in uitdagings en hoe ons hulle oorkom?

Die wet van die natuur is: “Die sterkste sal bly leef.” Die uitdaging van die lewe is om die lewe voluit te leef! Sukses is die uitvloeisel van terugslae wat oorkom is. Ware sukses is nie ’n resultaat nie, maar ’n manier van lewe.

Mislukking aan die ander kant is wel ’n keuse – die keuse om op te gee, in te gee en ’n slagoffer te word. Wanneer jy glo jy is ’n slagoffer is dit amper onmoontlik om jou te help.

Terugslae is in werklikheid geleenthede om in geloof op te staan en weer te begin. Hierdie keer met meer kennis en ervaring. Mislukking definieer nie wie jy is nie, tensy jy dit glo. Om op te staan en weer te begin vat guts, maar die stories van mense wat opgestaan het na terugslae is die inspirasie vir ons nuwe generasies.

Terugslae is ’n leerskool wat karakter bou

Ek vra dikwels vir kinders wat my kom sien, ’n vraag: “Is jy bederf?” Hulle dink ’n oomblik en baie antwoord: “Nie regtig nie, maar ek kort niks nie.”

My antwoord verras hulle altyd: “Sjoe, gelukkig weet jy dit, want as jy nie geglo het dat jy meer as genoeg het nie, kan niemand jou help nie!” Iemand wat glo hy het te min, sal altyd ’n verskoning hê waarom hy kan misluk.

Ware sukses is nie ’n uitslag in ’n wedstryd of hoe stewig jou bankbalans is nie. Dit is ’n manier van leef… dit is waagmoed om ten spyte van terugslae en teleurstellings weer te probeer. As jy nog nie oorwinning gesmaak het op ’n bepaalde gebied nie, moet jy bloot nog kennis en ervaring opdoen. Dan is nou nog nie jou tyd nie, maar jou tyd sal kom. Gryp elke geleentheid aan!

Jannie Putter, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling en sportsielkunde

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.

Gebruik die afslagkode JANNIE om die boek VOLGENDE JAAR JONGER aanlyn te koop op voelgoedboeke.co.za teen 50% afslag. R99 R199