Nuwe vis en seekos resepte vir jou gesin

peri peri garnale

As jou gesin begin kla omdat hulle al weer vanaand maalvleis eet, is dit tyd om na nuwe geregte met vis en seekos te kyk. Dis gesond, vullend en smaaklik.

Paella

Genoeg vir 6
Tyd: 50 minute

BESTANDDELE:

15 ml olyf- of avokado-olie
1 ui, fyngekap
1 rooi soetrissie, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 ryp tamatie, gehalveer, ontpit en fyngekap
10 ml paprika
375 ml middelslagkorrelrys
500 ml hoender- of seekosaftreksel
125 ml witwyn
12 heel garnale, doppe verwyder, skoongemaak maar met stertjies aan
250 g calamari-ringe
300 g bevrore wit visfilette
250 ml bevrore ertjies
60 ml platblaarpietersielie, fyngekap
suurlemoenwiggies, vir opdiening

METODE:

1 Verhit die olie oor matige hitte in ’n groot paella- of braaipan. Voeg die uie, soetrissie en knoffel by en laat kook 5 minute of tot die uie sag is.
2 Voeg die tamatie en paprika by en laat kook vir 1 minuut of tot geurig. Voeg die rys, aftreksel en wyn by en bring tot kookpunt. Verstel hitte tot laag en laat kook die mengsel onbedek vir 15 minute, tot die rys amper gaar is.
3 Voeg die garnale, calamari en vis by. Geur met sout en peper. Bedek en kook 5 minute.
4 Voeg die ertjies by en laat kook nog 3 minute of tot die garnale verkleur en die calamari en vis heeltemal gaar is.
5 Sprinkel pietersielie oor net voor opdiening en sit voor saam met die suurlemoenwiggies.

Wenk: Voeg ’n paar heel swart mossels by die paella, maar verwyder dié waarvan die doppe nie tydens die kookproses oopgegaan het nie.

[pagebreak]

Geposjeerde kruiesalm met groente en basmati-rys

Genoeg vir 4
Tyd: 35 minute

BESTANDDELE:

750 ml groenteaftreksel
1 rooi rissie, fyngesny
sap en gerasperde skil van 2 lemmetjies
5 cm vars gemmer, in skywe gesny
sout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
4 salmfiletporsies

gestoomde basmati-rys, vir opdiening
vars roketblare, vir opdiening
fyngesnyde rooirissie, vir opdiening
dik Griekse jogurt, vir opdiening
vars lemmetjiewiggies, vir opdiening

METODE:

1 Plaas die aftreksel, rissie, lemmetjiesap en -skil, gemmer en geurmiddels in ’n groot, kleefvrye pan of kastrol.
2 Bring tot kookpunt en verlaag dan die hitte sodat dit stadig prut. Plaas die salm in die vloeistof om te posjeer. Laat 5 minute kook, verwyder die salm met ’n gaatjieslepel en plaas op bedienborde. Die salm moet steeds pienk in die middel wees.
3 Sit voor saam met die gestoomde basmati-rys, baie roketblare, vars rissie, ’n skeppie Griekse jogurt en lemmetjiewiggies.

Wenk: Vir ’n sterker geur, voeg fyn komyn en koljander by die Griekse jogurt saam met ’n skeutjie suurlemoensap en ’n bietjie olyf- of avokado-olie.

[pagebreak]

Krap-en-mielie-poffers

Genoeg vir 6
Tyd: 25 minute

BESTANDDELE:

1 blik mieliepitte (410 g), gedreineer
250 ml bruismeel
2 sprietuie, in skyfies gesny
½ klein rooi-ui, fyngekap
250 ml melk
2 groot eiers, geklits
½ rooirissie, gekap
’n klein hand vol koljanderblare, fyngekap
seesout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
1 blik krapvleis (170 g), gedreineer
plantolie, vir vlakbraai
vars koljander, vir opdiening
vars lemmetjieskywe, vir opdiening

METODE:

1 Meng die mieliepitte, meel, sprietuie, rooi-ui, melk, eiers, rissie, koljander en geurmiddels saam in ’n groot bak.
2 Voeg die krap by en meng deeglik.
3 Verhit die olie in ’n middelslagpan oor matig hoë hitte en skep lepels vol van die beslag in die warm olie. Braai tot opgepof en goudbruin van kleur, ongeveer 3-4 minute. Verwyder met ’n gaatjieslepel en dreineer op ’n papierhanddoek.
4 Sit voor saam met baie vars koljander en lemmetjieskywe.

[pagebreak]

Geroosterde ansjovis met chermoula-laag

Genoeg vir 4
Tyd: 1 uur

BESTANDDELE:

2 kg ansjovissies, skoongemaak
Chermoula
200 g botter, gesout
2 knoffelhuisies, fyngedruk
45 ml vars koljander
gerasperde skil van 2 lemmetjies en die sap van 1 lemmetjie
15 ml fyn komyn
5 ml gerookte paprika
sout, na smaak
wortels, in dun repies gesny, vir opdiening
murgpampoentjies, vir opdiening
1 suurlemoen in wiggies gesny, vir opdiening

METODE:

1 Was die vis onder lopende water en droog deeglik af.
2 Vir die chermoula: Smelt die botter in ’n groot pan en soteer die knoffel vir ongeveer ’n minuut. Roer die oorblywende bestanddele by.
3 Bedek die vis met die chermoula en plaas in ’n warm roosterpan. Rooster tot die vis gaar is, ongeveer 20 minute, en draai af en toe om.
4 Sit warm voor saam met die wortels, murgpampoentjies en suurlemoenwiggies.

[pagebreak]

Romerige vispastei

Genoeg vir 4
Tyd: 45 minute

BESTANDDELE:

450 g wit visfilette, vel en grate verwyder
500 ml laktose-vrye melk
1 kg aartappels, geskil en in stukke gesny
15 ml heelkorrelmosterd
250 ml mayonnaise
500 ml bevrore gemengde groente (soos ertjies, wortels en mielies)
’n hand vol pietersielie, fyngekap
4 hardgekookte eiers, grof gekap
gerasperde skil en sap van een suurlemoen, na smaak

METODE:

1 Stel die oond op 180 °C. Plaas die vis in ’n oondbak en geur. Gooi die melk bo-oor en bedek met foelie. Bak ongeveer 15 minute tot gaar. Verwyder die vis en hou die melk eenkant.
2 Kook die aartappels in kookwater met ’n bietjie sout tot sag. Dreineer en druk die aartappels fyn saam met 160 ml van die melk wat vir die vis gebruik is en die mosterd. Geur.
3 Vlok die vis en meng dit saam met die mayonnaise, groente, pietersielie, eiers en suurlemoenskil en -sap. Geur en skep in 4 individuele hittebestande oondbakkies. Bedek met die fyn aartappels en bak ongeveer 20 minute tot goudbruin.

[pagebreak]

Hawermout-krummelvis met aartappelwiggies

Genoeg vir 4
Tyd: 45 minute

BESTANDDELE:

4 groot aartappels, in wiggies gesny en geblansjeer
15 ml olyfolie
4 stokvisfilette
60 ml gegeurde meel
1 eier, geklits
250 ml gerolde hawermout
500 ml bevrore ertjies, ontdooi
4 mentblare, fyngekap
sout en peper, na smaak

METODE:

1 Stel die oond op 200 °C. Vryf die aartappelskywe met olyfolie, geur met sout en peper en versprei op ’n bakplaat. Bak ongeveer 15 minute.
2 Doop intussen elke filet in die gegeurde meel, dan in die eier en daarna in die gerolde hawermout.
3 Skud die aartappelwiggies goed en plaas tussen die visfilette op dieselfde bakplaat. Bak 15 minute totdat die vis maklik vlok en draai die vis en aartappels een keer om.
4 Verhit die ertjies in ’n klein kastrol en druk dit liggies fyn. Roer die gekapte mentblare in saam met ’n bietjie olyfolie. Sit voor saam met die vis en aartappelwiggies.

[pagebreak]

Peri-peri garnale in ’n biersous

Genoeg vir 4
Tyd: 20 minute

BESTANDDELE:

1 kg koningingarnale, skoongemaak, aartjies verwyder en in die dop
10 ml sout
5 ml swartpeper
10 ml gerasperde suurlemoenskil
25 ml olyfolie
2 knoffelhuisies, geskil en fyngekap
1 lourierblaar
Thai-rissies, na smaak
15 g botter
250 ml bier
’n hand vol vars koljanderblare, fyngekap
suurlemoenskywe, vir opdiening

METODE:

1 Geur die garnale met die sout, peper en suurlemoenskil.
2 Verhit die olie in ’n diep braaipan of wok en voeg die knoffel, lourierblaar en rissies by. Voeg die garnale, botter en bier by. Sit deksel op en laat kook ongeveer 10 tot 15 minute. Verwyder van die stoofplaat, besprinkel met koljander en sit voor saam met die suurlemoenskywe.

[pagebreak]

Salade Niҫoise

Genoeg vir 4
Tyd: 30 minute

BESTANDDELE:

Franse slaaisous
125 ml suurlemoensap
180 ml ekstra suiwer olyfolie
1 salot, fyngekap
15 ml vars tiemieblare
60 ml vars basilieblare, gekap
15 ml vars origanumblare, gekap
30 ml Dijon-mosterd
sout en vars gemaalde swartpeper, na smaak

Slaai
2 blikkie (170 g elk) tunastukke, gedreineer
4 hardgekookte eiers, afgedop en in kwarte gesny
8 gaar baba-aartappels met skil, in blokkies gesny
2 koppe babablaarslaai, opgeskeur, of langblaarslaai
4 ryp Roma- of pruimtamaties, in kwarte gesny
1 rooi-ui, in dun skyfies gesny
200 g groenbone, puntjies afgesny en geblansjeer
60 ml Kalamata-olywe
45 ml kapperbessies, afgespoel
45 ml ansjovisfilette
croutons (opsioneel) vir opdiening
sout en vars gemaalde swartpeper, na smaak

METODE:

1 Vir die slaaisous: Plaas al die bestanddele in ’n groot bak. Klits goed totdat die suurlemoensap en olyfolie ’n emulsie gevorm het en ’n liggeel kleur verkry is. Geur en plaas eenkant.
2 Om die slaai te maak: Plaas die individuele slaaikomponente op ’n opdienbord en rangskik die ansjovisfilette bo-op.
3 Drup die slaaisous oor die slaai.
4 Geur na smaak en dien op saam met die croutons en ekstra slaaisous eenkant, en Franse brood.

[pagebreak]

Groenbone-ertjies-en-tuna pilaf

Genoeg vir 4
Tyd: 30 minute

BESTANDDELE:

30 ml olyfolie
300 g langkorrel rys, afgespoel
5 ml kerriepoeier
625–650 ml groente-aftreksel
gerasperde skil en sap van 1 klein lemoen
150 g gaar groenbone, gekerf
150 g ertjies
6 sprietuie
2 tamaties, ontpit en gekap
2 blikke (170 g elk) tunastukke, gedreineer
45 ml pietersielieblare, fyngekap
sout en swartpeper na smaak

METODE:

1 Verhit die olie in ’n pan met ’n wye bodem en vlakbraai die rys en kerriepoeier vir 2 minute.
2 Roer die aftreksel in, bring tot kookpunt, sit deksel op en prut vir 15 minute of tot die rys gaar is.
3 Voeg die lemoenskil en -sap, groenbone, ertjies, sprietuie en tamatie by. Laat die mengsel vir 2 minute verhit en roer dan die tunastukke versigtig by.
4 Kook nog 2 minute en roer die pietersielie in. Geur met sout en peper.
 

Resepte eers gepubliseer in Food & Home (www.foodandhome.co.za) asook Your Family (www.yourfamily.co.za).

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Website Security Test