Ek beleef God in die bos

129

Eers het Lente Roode gedink sy kon nie alleen aangaan nie, maar toe besef sy die natuur is waar sy die naaste aan die Skepper leef.

Met my kop op my arms het ek daar op die plaas onbedaarlik gesit en huil en met die Here geraas. “Hoe kan ons sonder Johann aangaan?” was die groot vraag.

Toe ek opkyk, het ’n steenbokkie, een van my honde en ’n bloukraanvoël my stip aangekyk. Dit was asof hulle gesê het: “Gaan aan, ons het jóú nodig, sórg vir ons.” Dit het my laat moed skep.

Ná my man se dood was ek vrou-alleen verantwoordelik vir die 15 olifante wat ons uit Zimbabwe gered en na ons plaas gebring het. Ons privaat wildreservaat, Kapama, moes ook sonder my lewensmaat bestuur word.

Ek was woedend oor alles. Johann was ’n baie gelowige mens wat geglo het ’n mens se gebede word altyd verhoor. Ons was so gelukkig getroud. Hy was maar 55. Ná sy dood wou ek weet hoekom my gebede dan nie verhoor word nie.

Dit was amper ’n herhaling van my kinderjare – toe dit ook gevoel het asof my gebede teen die plafon vasslaan. Op ses het ek agtergekom my pa het ’n buite-egtelike verhouding. Dit het my ma verskriklik seergemaak. Sy was bereid om hom te vergewe as hy net sou ophou om die ander vrou te sien.

Ek het só gebid dat die verhouding kon ophou, want kinders glo mos aan die boodskap: As ’n mens se geloof selfs so klein soos ’n mosterdsaadjie is, kan Hy jou help om berge te versit.

Daarom het ek elke dag vurig gebid dat die vrou doodgaan sodat my pa kon ophou om my ma so seer te maak! Daardie sesjarige dogtertjie kon nie verstaan hoekom Jesus nie die ander vrou wou wegneem nie.

Natuurlik besef ek vandag dat gebede nie gebruik kan word om ander skade te berokken nie. Ongelukkig was die verhouding uiteindelik wel die oorsaak van my ouers se skeiding tien jaar later.

Selfs toe al het die natuur my geïnspireer. Dis waar Sy wonderwerke en genade die sigbaarste is. Dis waar Hy woon en waar ’n mens berusting kry.

Die afgelope paar jaar het ek heeltemal in ’n bosmens verander! Dis ’n groot voorreg om feitlik elke dag in die natuur te kan deurbring, naby diere te wees en hulle te versorg .

Ek wou die bewaringsprojek al ’n paar keer laat vaar omdat dit soms finansieel swaar gegaan het. Maar as ’n mens besef hoeveel ander afhanklik van die diere is – die diere gee vir meer as 30 mense werk – dan gaan jy weer aan. Sowat 1 000 kinders besoek die sentrum elke maand en leer baie by die diere. Dis ’n wonderlike voorreg om ’n rol in die bewaring van die skepping te kan speel.

Wonderlike Amerikaanse vriende van ons kom elke jaar Kapama toe. Die paartjie is nie gelowig nie en ek dwing ook nie my geloof op hulle af nie. Onlangs toe hulle weer hier was, het my vriendin opgekyk na die duisende liggies in die donkerte en sag gesê: “If there is a God, this is where He is.”

Die gemis van Johann sal altyd daar wees, maar ek het berusting gevind. Dis beter om van dag tot dag te leef en nie aan môre te dink nie. Daar ís mos Iemand wat sal sorg.