Ek sien ’n engel werk

Die vlamme het gedreig om Elize Thesner se grasdakhuis te oorweldig. Menslik gesproke kon niks gedoen word nie, maar God het ander planne gehad.

Kom gou! Jou huis gaan afbrand!” Dis seker die laaste woorde wat enigiemand wil hoor. My sussie se stem oor die foon laat die bloed in my are yskoud word. Wat sou sy tog bedoel? Wat dan van al die diere in my huis? En boonop het ek ’n grasdak… dis mos die huise wat die vinnigste afbrand.

Die tien minute wat dit my neem om plaas toe te jaag, voel soos ’n ewigheid. Die mense van die omgewing is in rep en roer. In die ry vind ek uit dat daar ’n veldbrand in die omgewing ontstaan het.

Iemand het glo ’n vuur by hulle huis gemaak en dit nie ordentlik geblus nie. Die Augustuswind het die kooltjie gegryp en daarmee op hol gegaan. Die meerderheid van die plase in die gebied was reeds besig om tot op die grond toe af te brand.

Toe ek by die huis stop, sien ek hoe die vuur aankom en daar is net mooi niks wat ek kan doen om dit te keer nie. In so ’n situasie voel ’n mens totaal magteloos. Party mense dink aan die aardse besittings wat hulle sou wou red – fotoalbums, aandenkings, klere.

Baie dinge het ook tegelyk deur my kop gemaal. Een van die grootste bekommernisse was die diere in my huis. Ek teel met bearded dragons en het gewonder wat sou van hulle word.

Ons elkeen leer die Here ken deur die dinge waardeur ons al moes worstel. As ons al hierdie hartsopenbaringe oor Hom bymekaarsit, kry ons die groter prentjie oor Wie en Wat Hy regtig is.

Al wat ek kon doen, was om te bid. Terwyl ek bid, wys die Here toe vir my dat daar ’n engel is wat sy vlerke oor my huis uitsprei. Hy staan daar en hou dit toe, sodat die vlamme geen skade kan aanrig nie.

Ek is heeltemal verstom, want ek kan sien watter invloed dit op die werklikheid hier reg voor my oë het. Die vuur woed reg rondom my huis, maar nie een van die vlamme lek-lek eers aan die grasdak nie!

Na ’n uitmergelende tyd en toe die vuur hom klaar uitgewoed het, gaan stap ek om die huis om na die skade te kyk. Alles buite, reg rondom my huis, het tot teenaan die mure afgebrand, maar my grasdakhuis self het nie eers ’n vlekkie se skade opgedoen nie.

En met goeie rede, sou ek toe later uitvind. Agtien van die twintig plase in die omgewing – almal hoenderplase – het daardie dag afgebrand. My huis was in daardie tyd vir al hierdie mense die enigste toevlug en veilige hawe. Dit was ’n herberg wat deur God self bewaar is, sodat hulle in veiligheid daar kon skuil en tot verhaal kon kom.

Tegnies en menslik gesproke was my huis met sy grasdak die eerste wat moes afbrand, maar dit het nie. Niemand kon daardie wonderwerk ignoreer nie. Die Here het die plek regtig beskerm, nes Hy belowe het!

Daar is ’n groot les wat ek uit hierdie hele situasie geleer het: God slaap nie, Hy kyk na ons. Ek wil graag vir almal sê: Vertrou op Hom, maak nie saak hoe onmoontlik jou situasie vir jou lyk nie. Hy is die enigste een wat jou regtig kan help.