Europa toer 2017 saam met Mandi Baard

Van 10 tot 23 Julie verf Finesse-lesers en Mandi Baard Europa rooi. Die Storieboektoer, wat meer as tien plekke in twee weke besoek, is Trafalgar se gewildste Europese toer.

Mandi was al ’n paar maal oorsee en raak heeltemal nostalgies wanneer sy oor hierdie toer begin droom:

“Ek raak kinderlik opgewonde as ek deur die program lees! Ek dink met heimwee terug aan hoe ek in Rome, my gunstelingstad, gestap het en egte Italiaanse pasta geëet het, om nie van hulle pesto’s te praat nie. Daar is net iets aan daardie strate en die grootsheid van die argitektuur wat jou asem wegslaan. Ek kan nie wag om dit met julle te deel nie!

“Parys is selfs beter as wat die flieks voorstel. Ja, die Eiffeltoring is ongelooflik indrukwekkend, maar dit doen tog iets aan jou hart om in die middel van die dag by ’n Franse straatkafee te sit en ’n glasie wyn te geniet, terwyl die straatkunstenaar langs jou sit en skilder en Franse paartjies hand aan hand verbystap.

“Ek het gewens die tyd wil gaan stilstaan toe die groot Glockenspiel by München se Marien-plein begin speel en die hele plein tot stilstand kom om eers daarna te luister, so asof elke taal en nasie op daardie oomblik die taal van musiek praat wat almal verstaan.

“Ek sien ook vreeslik uit na ons busritte. Dink aan al die gesels en grappies wat tussen ons vroue gaan uitkom! En boonop gaan geen mansmens ons aanjaag as ons wil koop of in Duitse koffiewinkels wil rondsit nie! Dit is werklik ’n droom van my om ’n sprokiestoer soos hierdie een met julle mee te maak.”

As jy na die program kyk, is dit nie moeilik om te verstaan waarom hierdie Storieboektoer van Trafalgar so gewild is nie. Jou geliefde stories word hier waar!
Afgesien van die bekende bakens en plekke soos Amsterdam, Florence, Venesië en Parys wat ons besoek, is daar genoeg vrye tyd waar jy met jou nuwe vriendinne kan kuier, die dorpe verder kan ontdek en inkopies doen.

Dié toer is so reg na ’n vrou se smaak!

Hierdie toer is spesiaal vir jou

Jy wil reis, nuwe plekke sien en nuwe mense ontmoet. Jy kyk flieks wat in ander lande afspeel en dink: as ek maar net ook daar kon wees... Alles lyk rooskleurig, maar jy is enkellopend en dis sleg en stresvol om alleen te reis. Die Storieboektoer word spesiaal vir enkellopende vroue van 19 tot 69 aangebied, want ons glo om enkellopend te wees behoort niemand van hulle toerdrome te ontneem nie!
Dalk het jy ’n man wat óf baie wegwerk of net eenvoudig nie hou van toer nie. Die toergroep is ’n veilige opsie met vroue wat soos jy dink en doen.

Hierdie toer kos by enige ander agentskap ongeveer R40 000. Bring jou enkellopende vriendin saam en betaal elk R36 750*. Skakel Cleona by Trafalgar om te bespreek 011 280 8440/Cleona.becker@ttc.com.

Noem spesifiek dat jy op die Finesse-toer wil gaan.

*Pryse is onderhewig aan verandering. Vlugte, die landtoer, akkommoda sie, die meeste ontbyte en sekere aandetes is ingesluit. Party ekskursies, sakgeld, drankies, middagetes en aandetes is uitgesluit.

lyn_3.png

BESOEK 10 PLEKKE IN 2 WEKE!

Arriveer in Amsterdam

Ons begin in Nederland met sy tulpe, klompe en windmeulens. Arriveer in Amsterdam – een van die wêreld se vriendelikste stede!

Amsterdam – Keulen – Rynland

Die Keulen Katedraal is die grootste katedraal in die Gotiese boustyl in Europa. In Boppard klim ons weer op ’n boot op die Ryn, en vaar verby wingerde en betowerende kastele.

Rynland – München – Innsbruck

Geniet die Glockenspiel op die Marien-platz (plein) in München, wat elke dag op ’n sekere tyd die hele plein in vervoering het. Ons gaan ook egte Duitse bier by die Hofbräuhaus proe! Die Olimpiese stad Innsbruck, met sy bekende Goue Dak en ski-bane, lyk of dit in ’n sprokie hoort.

Innsbruck – Venesië

Welkom in Italië! Ons besoek die St Markus Basilika en die Doge se Paleis. Daarna verken ons die res van Venesië, soos ’n glasblaaswerkswinkel. Dis ook hier waar jy en jou man ’n opsionele romantiese vaart in ’n gondel kan onderneem.

Venesië – Rome (2 nagte)

Ons ry oor die Apennyne-bergreeks, deur Toskane, Umbrië en Lazio tot in Rome. Verken die stad en gaan eet by een van die heerlike restaurante. Die toergids laat Rome se ryke geskiedenis uit die stof opstaan. Ons besoek die St. Petrus Basilika, met asemrowende kunswerke, asook die antieke bouvalle soos die Colosseum. Rome slaan jou asem weg.

Rome – Florence

Florence, die Renaissance-stad, neem jou ’n paar honderd jaar terug in die tyd. Besoek die Piazzale Michelangelo, Piazza della Signoria en die Giotto-kloktoring. Die egte leerprodukte en goue juweliersware is wonderlike geskenke vir jou kroos by die huis! En ja, jy sal Pinocchio hier teëkom.

Florence – Luzern-meer (2 nagte)

Ons steek weer berge oor en ry verby Milaan, oor die Switserse grens tot in die hart van Switserland: die Luzern Meer. Geen kamera kan daardie natuurskoon werklik vasvang nie. Besoek al die verskillende besienswaardighede soos die Kapelbrug, die Kerk van die Jesuïete en die Leeumonument, 'n geskiedkundige baken uit die Franse Revolusie. Die bergpiek-ekskursie is opsioneel. Jy kan Switserland ook nie verlaat voor jy nie egte Switserse sjokolade geproe het nie.

Luzern – Parys (2 nagte)

Ons arriveer die aand in die Stad van Liefde, met van die bekendste besienswaardighede ter wêreld. Ons ry verby Boergondië se wingerde en stop by al die groot name, soos die Champs Élysées, Arc de Triomphe en die Eiffeltoring. Jy kan die aand afsluit soos jy wil, maar ’n Franse brood en sjampanje kan mos net lekker wees!

Vertrek uit Parys

Na ’n onvergeetlike toer klim ons weer op die vliegtuig op pad na Suid-Afrika.

lyn_3.png

 

 

Website Security Test